Die bewerings is laat Donderdag deur die Bankia-bank en die Spaanse minister van ekonomiese sake ontken, maar die Financial Times van Londen wat sy feite selde verkeerd kry, het berig dat dit wel die geval was.
Die nuus volg op berigte gister dat Grieke besig is om banke leeg te trek van Euro’s in afwagting van die sterk moontlikheid dat Griekeland uit die Euro-sone geskop kan word.
Aandele in die Spaanse bank het Donderdag met 14% gedaal en is nou sowat die helfte van wat dit ‘n week of twee gelede was. Die bank sal glo deels genasionaliseer word deur die Spaanse regering.
Ondertussen is daar volgehoue berigte dat Spanje groot probleme ondervind deur veral baie hoë rentelas op onlangse lenings en bankuitgifte. Daar is ook bewerings dat Spaanse banke groot verliese ly op lenings wat op eiendomme uitgegee is.
In die hele Euro-sone neem kommer by die dag toe dat die geldeenheid onder enorme druk kan kom en dalk selfs heeltemal tot niet kan gaan met lande wat weer na hull ou geldeenhede terugkeer. Die een land wat hieroor glimlag is Brittanje – maar ook nie te breed nie want die Europese probleme kan maklik oor die smal Engelse kanaal spoel.
