ANC minag belastingbetaler met e-tol

“Die regering toon sy minagting vir die belastingbetalers van Suid-Afrika deur te besluit om teen die e-tolhofuitspraak te appelleer. Nog voordat die regering die uitspraak bestudeer het en gevind het dat daar grondige redes bestaan waarop hulle die uitspraak kan appelleer, het die regering aangekondig dat hy hom nie gaan berus by die bevinding van die hof nie. Dit spreek van arrogansie en die verwerping van die regte van belastingbetalers wie se geld die regering nou verder gaan vermors met ‘n onnodige hofsaak,” was die reaksie van adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor Vervoer.

“Die regering probeer ‘n punt bewys met belastingbetalers se geld. Die regering het nie padverbruikers in ag geneem voordat die Gauteng e-tolstelsel opgerig is nie en ignoreer bloot belastingbetalers en padverbruikers se oorweldigende opposisie teen die tolstelsel. Slegs wanneer daar ‘n verkiesing ophande is, ken die regering belastingbetalers, maar wanneer dit kom by die vermorsing van belastinggeld weier die regering om die publiek enigsins aan te hoor,” meen adv. Alberts.

Die VF Plus is van mening dat die regering nie voldoende regsgronde het waarop ‘n appèl kan slaag nie. Die besluit om te appelleer is gebaseer op die beginsel van die regering dat die e-tolstelsel in werking gestel moet word ten alle koste om so die skuld wat die regering aangegaan het om die projek op die been te bring, te verhaal. Daarbenewens is die regering nie ernstig met die komitee, onder leiding van adjunkpresident Motlanthe, wat aangestel is om die tolstelsel te ondersoek nie. Die regering moet nie appèl aanteken nie, maar eerder alternatiewe meganismes vind waardeur die skuld gedelg kan word sonder om nog belastinggeld te vermors en padverbruikers vir die regering se fout te straf.

Лобановский

Maak 'n opvolg-bydrae