“Sy is nie geskik om die amp te beklee nie,” het die woordvoerder vir die National Education Health and Allied Workers Union, Sizwe Pamla, Woensdag in ‘n verklaring gesê.
“Sy moet verantwoordelikheid neem vir al die saakbeskadiging in die Johannesburgse middestad en die bloed van onskuldige mense wat gister [Dinsdag] vergiet is.”
Die polisie het Dinsdag traangas en waterkanonne gebruik om Cosatu-lede op te breek wat die DA probeer verhoed het om buite sy hoofkantoor te betoog.
Die DA wou verhoed dat Cosatu ‘n jeugsubsidie deur die regering keer, wat volgens die DA duisende nuwe werke vir jongmense kan skep.
Klippe en stukke sement is in die skare ingegooi tydens Zille se toespraak en ‘n DA-lid is ernstig beseer.
Nehawu het die geweld en skade wat tydens die optog aangerig is, veroordeel.
“Werkers wat in Braamfontein saamgekom het om die vakbond te verdedig, is met klippe gegooi deur die DA se gehuurde groep mense en die polisie het ook op hulle geskiet,” het Pamla gesê.
“Die DA, met hul klippe en stene, het talle motors beskadig en het baie mense beseer,” het hy gesê.
Hy het diegene wat beseer is aangemoedig om hul mediese rekeninge aan Zille te stuur.
“Hulle moet ten volle verantwoordelikheid neem vir die aksies van hul gehuurde skare…”
Die DA se woordvoerder, Mmusi Maimane, se Nehawu “probeer duidelik om die blaam te skuif vir die geweld wat Cosatu-lede teenoor DA-lede getoon het.”
Hy sê DA-lede het deelgeneem aan ‘n wettige optog wat deur die Johannesburg-metropolisie gelei is, terwyl Cosatu se saamtrek onwettig was en “daarop gemik was om die DA se optog te ontwrig”.
“Die hele Suid-Afrika weet Nehawu en Cosatu probeer die belange van hul lede beskerm, terwyl die DA veg vir die regte van die werkloses,” het hy gesê.
Hy sê die jeugsubsidie sal 420 000 werke skep.
