“Die bende is in besit van hoë kaliber wapens,” het maj. genl. Pumza Gela, waarnemende provinsiale polisiekommissaris, gesê.
Die areas wat geteiken word is Benoni, Germiston, die N17, Beyers Naudé-rylaan en die N14 naby Diepsloot. Vyf sake is in die afgelope sewe dae aangemeld en die modus operandi stem in al die gevalle ooreen.
Hy het gesê drie tot vyf mense in ‘n ongemerkte motor, meestal ‘n wit Golf, sal mense kaap en beroof na ure wanneer dit nie veilig is om stil te hou nie.
Sommige van die misdadigers gebruik ook blou ligte.
Gela het inwoners aangeraai om nie te stop as hulle aangesê word om so te doen deur mense in ‘n ongemerkte voertuig wat blou ligte gebruik nie.
“Moenie stop nie. Soek na die veiligste plek, soos ‘n vulstasie of ‘n polisiekantoor.
“As dit ‘n wetsgehoorsame beampte is, sal hy jou volg.””
Motoriste wat afgetrek word deur iemand wat beweer hy is ‘n beampte in ‘n ongemerkte voertuig, moet daarop aandring om sy identifikasievorms te sien.
Gela het gesê die uitdaging vir die polisie is dat baie kapings en rooftogte laat aangemeld word – in sommige gevalle eers ‘n dag later.
“Soms is daar ‘n gaping van twee uur… die voertuig kan teen dan al buite die provinsie wees.”
As sake onmiddellik aangemeld word, sal polisiebeamptes dadelik na die toneel ontplooi word, het hy gesê.
Hy het nie die moontlikheid uitgesluit dat sommige lede van die bende wel polisiebeamptes kan wees nie.
“Dit kan nie uitgesluit word dat polisielede saamwerk met hierdie kriminele nie.”
In die afgelope 18 maande is 600 polisiebeamptes in Gauteng vir misdade in hegtenis geneem.
“Daar is dalk korrupte lede in ons midde, maar dit is nie almal van ons nie. Dis ‘n druppel in die oseaan.”
Hy het gesê 99 persent van polisiebeamptes is goed.
Die SA Polisiediens probeer sy strategie verbeter en het ‘n stelsel in plek, het hy gesê.
Ongeveer 850 polisiebeamptes wat in Gauteng ontplooi is, is gevra om op die uitkyk te wees vir verdagte voertuie in die gebiede wat hul patrolleer.
Hy het mense gevra om die registrasienommers van verdagte voertuie aan te meld.
Gela het gesê polisiebestuur neem polisie-uniforms wat nie gebruik word nie terug om te keer dat hulle in die verkeerde hande beland.
‘n Nuwe stelsel is in plek geplaas in verband met die uitreik van amptelike vuurwapens.
In alle polisiekantore is twee mense aangewys om na vuurwapens om te sien en hulle uit te reik om te keer dat hulle “maklik wegglip”, het Gela gesê.
