Die optog wat deur die DA gereël is teen Cosatu, was ‘n poging om werkers teen mekaar op te steek terwyl dit eintlik ‘n klassestryd was, het hy in Johannesburg gesê tydens ‘n internasionale vergadering van vakbonde wat deur Cosatu aangebied is.
Die konflik tydens ‘n optog in Johannesburg was ‘n polities belangrike geleentheid, het Cosatu se sekretaris-generaal, Zwelinzima Vavi, Woensdag gesê.
Hy sê die konfrontasie met die DA het die verskille tussen die twee groepe duidelik uitgelig en dat die beginsels wat hulle rig, “fundamenteel verskil”.
“Gister [Dinsdag] was belangrik, want dit het die frustrasies gewys van diegene wat die meeste gemarginaliseer word in ons samelewing.”
Klippe het gevlieg toe DA-lede aan ‘n optog na Cosatu se hoofkantoor deelgeneem het om sy ondersteuning van ‘n jeugsubsidie te wys. Die polisie het traangas en waterkanonne gebruik om strydende faksies uitmekaar te jaag.
Die konfrontasie was ‘n aanduiding van wat kan kom as werkloosheid en armoede nie op ‘n radikale en ander manier aangespreek word nie, het Vavi gesê.
“Ons sit op ‘n tikkende bom.
“Werkloosheid en armoede is nou erger as ooit vantevore.”
Werkers wat werk toe ry in minibus-taxi’s, wat deur Vavi beskryf word as “glas-doodskiste,” sien die rykdom van ander en hul frustrasie neem toe.
Hy sê die betoging deur die DA is ‘n poging deur ‘n politieke party wat die ryk mense en base van maatskappye verteenwoordig en die land se armes uitbuit.
Die belangrikste kwessies in die land is nou toenemende werkloosheid, armoede en ongelykheid.
“Die leierskapdebat in Mangaung is nie die groot fokus nie,” het Vavi gesê in verwysing na die ANC se verkiesingskonferensie wat later vanjaar gehou word.
“Ons moet besluit waarheen ons op pad is en die Vryheidsmanifes terugbring.”
Hy het die media berispe vir wat hy bestempel as eensydige verslaggewing oor Dinsdag se betoging en beweer die DA het na die optog gekom met ‘n bakkievrag klippe.
Vier lede van Cosatu het erge beserings opgedoen en daar is nie daaroor berig nie, het Vavi beweer.
“Ek veroordeel geweld, alle geweld, selfs van Cosatu-lede. Dit dien niemand nie.”
