Toespraak gelewer by die jaarvergadering van die Genootskap vir die Handhawing van Afrikaans, Pretoria, 12 Mei 2012.
Baie dankie vir die uitnodiging om vandag enkele gedagtes met die Genootskap vir die Handhawing van Afrikaans te deel. Ons voel almal hartstogtelik oor Afrikaans, ons unieke Wes-Europese taal wat in Afrika wortel geskiet het. In weerwil van dekade lange diskriminasie en onregverdige mededinging van Engels, in sowel die negentiende eeu as meer onlangs in die sogenaamde “nuwe Suid-Afrika”, verseg Afrikaans om somaar te verdwyn.
Ons mag egter nie op ons louere rus nie, want die aanslag teen Afrikaans is feller as ooit. Vroeër vanjaar was ek stom van verbasing toe ek op 16 Maart verneem het dat sowel die SAUK as ‘n groep taalkundiges in die Wes-Kaap beplan om Afrikaans sogenaamd “te herstandaardiseer” omdat dit glo die eerste keer verkeerd gedoen is. Met ander woorde, die nasionale uitsaaier beplan ‘n aanval op Standaardafrikaans.
Hoewel daar oor die afgelope tien, vyftien jaar dikwels na “die taaldebat” verwys is, word daar eintlik gans te min oor Afrikaans en oor taal in die algemeen in Suid-Afrika gedink. Taal raak elke faset van menslike bestaan; selfs Josef Stalin van die ou Sowjetunie het dit besef toe hy gesê het: “Synde regstreeks verbind met denke, registreer taal en bring onder woorde, en deur woorde wat in sinne saamgestel is, die gevolge van die denkproses en prestasies van menslike kognitiewe aktiwiteit. Dus maak taal die uitwisseling van gedagtes in die menslike samelewing moontlik.”
Nou mag u dit vreemd vind dat ek sommer met die intrapslag uit Josef Stalin, die beroemde of selfs berugter Russiese kommunis, se opstel “Die marxisme en taalkundige probleme” aanhaal, maar dis nie om dowe neute nie. Myns insiens is daar vandag twee probleme wat Afrikaans in die gesig staar: die aanval op die standaardtaal, asook ‘n verwante mistasting oor die Afrikaanse taalkunde.
Albei hierdie aanvalle op Afrikaans, dié op die standaardtaal, maar ook die wanopvatting van Afrikaans as een of ander vorm van kreools wat deur taalvermenging tot stand gekom het, kan toegeskryf word aan die revolusie wat ons in Suid-Afrika beleef. Die huidige bewind roem hom daarop dat hy besig is met ‘n grootskaalse transformasie van ons land wat as die “nasionale demokratiese revolusie” bekendstaan.
Vandaar dus my beginpunt, by die Russiese revolusie en die woorde van een van die groot Russiese revolusionêre leiers, Josef Stalin, wat dertig jaar lank – langer as enige ander leier in die ou Sowjetunie – geregeer het. Stalin, gee dit hom toe, het hom uitgespreek téén die oorywerige marxistiese taalkundiges van sy tyd wat selfs Russies aan die kommunistiese revolusie wou onderwerp. Volgens hierdie taalkundiges, waaronder kameraad Nicholas Marr, sou daar uiteindelik slegs een wêreldtaal wees wat proletariërs van alle lande sou herenig.
In die uiters radikale aanslag op die Afrikaanse standaardtaal wat tans beplan word, herken ons heelwat van die fanatieke ywer van Sowjet-revolusionêre, wat deur Stalin in sy beroemde bydrae oor die taalkunde betig is. Marr het geglo dat daar iets soos “Jafetiese tale” was wat deur Noag se derde seun, Jafet, nagelaat is. Indien die Semitiese tale na Sem vernoem kon word, en die Gamitiese tale na Gam, het Marr gemeen dat die Kaukasiese tale, asook Baskies, na Jafet teruggespoor kon word. Hy was verder van mening dat dieselfde marxistiese proses waardeur lande en die wêreld deur klassestryd verenig kon word, sou veroorsaak dat alle tale uiteindelik in een wêreldtaal verenig. Terloops was Marr nie van Russiese afkoms nie, maar ‘n Skot wat in Rusland grootgeword en die revolusie met godsdienstige drif omhels het.
Daar is twee aspekte van die huidige taalsituasie wat parallelle met die ou Sowjetunie toon: die byna groteske behoefte aan, en aandrang, op “eenheid” waardeur etniese en talige verdeeldheid oorkom moet word, asook die manipulering van die taalkunde vir politieke doeleindes. Dit is laasgenoemde element wat ek “taalkundige Lisenkoïsme” noem.
In die Gerwel-verslag oor Afrikaanse universiteite van ongeveer ‘n dekade gelede, het prof. Jakes Gerwel vermeld dat Engels ‘n sogenaamde “bindingstaal” is en daarom geskik is om die revolusionêre oogmerk van ‘n verenigde nasie te bevorder. Gerwel is self ‘n marxis en heg daarom dieselfde hoë waarde aan supranasionale eenheid, sowel in Suid-Afrika as in die wêreld. Blykbaar het hy in in 1989 in trane uitgebars toe hy op televisie aanskou het hoe die Berlynse muur afgebreek word, wel wetende dat dit die einde van Oos-Europese sosialisme en kommunisme ingelui het. Daardie taalkundige en etniese verskeidenheid wat ‘n veelvolkige of multi-etniese staat soos Suid-Afrika kenmerk, word deur plaaslike kommuniste as ongewens en ‘n “oorblyfsel uit die pre-revolusionêre verlede wat oorkom moet word”, gesien.
Waarskynlik is daar min Afrikaners wat van Lisenkoïsme bewus is. Toe ek ‘n internetsoektog na die woord in Afrikaans loods, kom ek sowaar op een van my eie briewe af wat ek in Februarie 2005 aan Beeld gerig het. Of die brief destyds in die koerant gepubliseer is, weet ek nie; wel is dit op PRAAG se Yahoogroups-poslys uitgestuur. In Augustus van dieselfde jaar het ek ‘n referaat by die Akademie vir Wetenskap en Kuns se jaarvergadering gelewer waarin ek weereens na Lisenkoïsme verwys het. Die definisie wat ek daar van Lisenkoïsme gegee het, lyk vir my steeds so goed soos enige ander en daarom herhaal ek dit hier:
“[Lisenkoïsme] verteenwoordig naamlik ‘n ideologie wat wetenskapsbeoefening ondergeskik stel aan maatskaplike doelwitte soos gelykheid of die oorheersing van ‘n bepaalde politieke filosofie soos kommunisme of Afrika-bevryding.”
Wie was Lisenko? Vir diegene wat nie weet nie, verwys ek kortliks na hom. In Frankryk, die VSA en elders is daar al etlike boeke oor Trofim Lisenko geskryf. Die kritiek op Lisenko is feitlik universeel, want selfs die marxistiese filosowe soos Etienne Balibar het sy vorm van kommunistiese dwangbuis vir die wetenskap verwerp. Omdat Suid-Afrika egter daartoe verdoem is om die foute van die Sowjetunie te herhaal, beleef ons veral oor die afgelope tien jaar reeds taalkundige Lisenkoïsme of iets soortgelyks aan Nicholas Marr se Jafetiese taalteorie in ons land: Engels as “bindingstaal” en taal van “nasiebou”.
Lisenko was van boerse afkoms, maar het onder Stalin ‘n vername landbouwetenskaplike geword wat die tradisionele genetika van Mendel verwerp het. Hy het geglo dat plante en veral sade deur kruisteling en temperatuurveranderinge verbeter kon word. Hy was veral geesdriftig oor ‘n ander Russiese plantkundige, Iwan Wladimirowitsj Mitsjoerin se eksperimente met kruisteling. As gevolg van die rampspoedige eksperimente met die Russiese weergawe van grondhervorming en kollektiewe landbou in die twintigerjare, met gepaardgaande hongersnode en volslae ontnugtering aan die kant van die Russiese kleinboere, is Lisenko se pseudowetenskaplike teorieë as ‘n wonderoplossing aangegryp. Uiteindelik is hy deur Stalin tot hoof van die Sowjet-akademie vir Landbouwetenskappe bevorder. Lisenko het onmiddellik begin om die sogenaamd “skadelike idees” van plantkundiges en landbouwetenskaplikes, wat op die ortodokse wetenskap gegrond was, met wortel en tak uit te roei.
Sommige skrywers hou Lisenko verantwoordelik vir die vervolging en selfs sluipmoorde op verskeie wetenskaplikes. Daarom het Lisenko se naam dwarsdeur die wêreld sinoniem met pseudowetenskap en ‘n soort intellektuele terreur geword.
Vandag in Suid-Afrika beleef ons natuurlik die linkse revolusie in al sy glorie, nes in Rusland tydens die 1930s. Sommige idees word as “skadelik” of “gevaarlik” gesien. Terwyl moord en doodslag hoogty vier en amper soos verkeersknope of slegte weersomstandighede as ‘n blote lastigheid aanvaar word, word daar ywerig jag gemaak op verkeerde taalgebruik, rassistiese woorde, oorblyfsels van “apartheidsdenke”, en dergelike meer.
Soos Gerwel reeds te kenne gegee het met sy stelling dat Engels die “bindingstaal” van Suid-Afrika is, is Afrikaans nie eintlik vir die revolusie aanvaarbaar nie. Daarom moet Afrikaans sogenaamd “getransformeer” word, soos trouens, die totale Suid-Afrikaanse maatskappy: sy ekonomie, landbou, wêreldbeskouing, letterkunde, geskiedenis en so meer.
Hierdie transformasie van Afrikaans moet sowel sinchronies as diachronies geskied. Die huidige vorm van die taal wat geskryf en gepraat word, is vir die revolusionêre nie aanvaarbaar nie, synde geskoei op wat hulle die “blanke norm” noem, en moet daarom weg. Dit is ook wat die deelnemers aan RSG se “Praat saam”-debat op 16 Maart 2012 gesê het. In die idioom van Lisenko en Mitsjoerin, moet Afrikaans as’t ware deur “kruisteling” met ander tale, veral natuurlik Engels, “verbeter” of “reggemaak” word. Ook wat uitspraak betref, is die standaardtaal reeds grotendeels op die radio en TV afgeskaf en word die mees groteske uitsprake van Afrikaanse woorde, met kolossale aanvaarding van Engelse fonologie, as die nuwe norm voorgehou.
Die verwoesting van ons standaardtaal word as ‘n edele onderdeel van die revolusionêre projek gesien. Die sentralistiese beheer wat die staat oor veral die uitsaaiwese behou, verseker dat hierdie proses met redelike gemak aan ons opgedring word. Afrikaners het so lamsakkig geword dat hulle blykbaar dit alles gelate aanvaar. Noem hierdie omvorming van die standaardtaal sinchroniese Lisenkoïsme.
As dit egter by die geskiedenis van Afrikaans kom, het die revolusionêre nogal ‘n probleem. Sedert die negentiende eeu en die Eerste Afrikaanse Taalbeweging, is die geskiedenis van Afrikaans redelik goed gedokumenteer, vanaf die eerste afwykings van Algemeen Beskaafde Nederlands, tot die aantal teorieë rondom die ontstaan van Afrikaans wat in die eerste helfte van die twintigste eeu gewoed het.
Een van die beste oorsigte oor ons historiese taalkunde bly prof. Edith Raidt se boek Afrikaans en sy Europese verlede. Die titel sê eintlik reeds alles: Afrikaans is ‘n Wes-Germaanse dialek wat uit sewentiende-eeuse Nederlands onstaan het en in die laat negentiende en vroeë twintigste eeue tydens ‘n soort spelhervorming gestandaardiseer is. Tydens die twintigste eeu het ons daardie merkwaardige opbloei van die Afrikaanse standaardtaal beleef waarsonder Suid-Afrika se opvoedkundige, wetenskaplike, tegnologiese, juridiese en administratiewe vooruitgang haas onmoontlik sou gewees het. Die aantal mense wat in Suid-Afrika Engels as moedertaal praat, was eenvoudig te min om dieselfde te vermag het. As ons na die res van Afrika suid van die Sahara kyk, waar Engels in Oos- en Suider-Afrika byna uitsluitlik as taal van die administrasie en van onderwys gebruik word, dan het geen soortgelyke ontwikkeling daar plaasgevind nie. In ‘n wesentlike sin het die sogenaamde “Engelssprekende” lande van Afrika kolonies gebly wat op allerlei maniere – hetsy kultureel, hetsy finansieel – hul afhanklikheid van Brittanje behou het. Daar is by my ook bepaalde vrae oor die patriotisme, of gebrek daaraan, van ons Engelssprekende landgenote, iets wat veroorsaak dat hulle meermale hul eie belang nastreef en kwalik bereid was tot die soort grootse nasionalistiese opoffering wat Afrikaners in die twintigste eeu gemaak het ten einde sowel Afrikaans as Suid-Afrika te laat ontwikkel.
Steeds – ‘n mens wil byna sê, wonder bo wonder! – lewer die skole waar Standaardafrikaans as opvoedkundige medium gebruik word die room van die land se toekomstige wetenskaplikes, ingenieurs, wiskundiges, IT-deskundiges en skrywers op. Vir die revolusionêre, wat deur ‘n millenariese vernietigingsdrang begeester word, verteenwoordig dit ‘n teenrevolusionêre hebbelikheid wat so gou moontlik geneutraliseer moet word. Die huidige aanslag op Standaardafrikaans is daarom óók ‘n aanslag op die opleiding, kultuur en identiteit wat die standaardtaal moontlik maak. Soos wat Lisenko in die Sowjetmedia voorgestel is as die verpersoonliking van die “kleinboergenie” wat die burgerlike of “bourgeois” wetenskap met sy reëls en prosedures uitdaag, word diegene wat Afrikaans “verkeerd praat” of die standaardtaal in die openbaar afkraak vandag as taalkundige helde uitgebeeld.
Wat die aard en ontstaan van Afrikaans betref, word daar deur die media en selfs aan die universiteite onder taalkundiges, ten minste diegene wat hulle aan die regime se grille onderwerp, die mite gevestig dat ons taal eintlik ‘n soort kreools soos die uitgestorwe Negerhollands is. Hoeveel kere oor die afgelope aantal jare het ons nie al gehoor dat Afrikaans “gemaak is deur Kaapse slawe en die Khoisan” nie? ‘n Taalkundige van die Potchefstroomse universiteit het enkele jare gelede by die Voortrekkermonument verklaar dat Afrikaans ‘n “gemorstaal” sou wees, waarmee hy daarop gesinspeel het dat Afrikaans eintlik ‘n vermenging van tale sou wees. Hierdie mite word aktief bevorder, asof Afrikaans nie sy Germaanse sintaksis en woordeskat behou het, in weerwil van sy vereenvoudigde grammatika nie. Trouens, soos Raidt en ander skrywers al aangetoon het, is die aantal leenwoorde in Afrikaans vanuit Khoikhoi, die Bantoetale of Maleis-Portugees, so gering dat ons hulle op die een hand kan tel. Daarteenoor bestaan daar ‘n hele horde Franse leenwoorde wat Afrikaans vanuit sewentiende-eeuse Nederlands behou het en wat ons nog elke dag gebruik. Die woord “fontein” byvoorbeeld, wat al ‘n gemeenplaas van Afrikanerplek- of plaasbenamings geword het, soos in “Bloemfontein”, “Springfontein”, “Bapsfontein”, ens., was oorspronklik ‘n Franse woord. So ook “kersie”, “mansjet”, “sampioen”, “medalje”, “trofee”, “debuut”, “debutant”, “tantieme” en vele ander.
Maar toenemend hou die revolusionêre taalkundiges vol dat Afrikaans eintlik ‘n kreoolse taal is, met die implikasie dat sy kultuurtaalstatus ook in die gedrang is. Soos prof. Anna Coetzee, nog ‘n eertydse Wits-taalkundige en kollega van Edith Raidt, gesê het: “Oor geen aspek van Afrikaans is daar vir meer as ’n eeu lank al soveel en so polemies geskryf, as oor sy graad van kreool-heid al dan nie. Politieke ideologie word buitelands gereeld daaraan gekoppel.”
Dit lyk amper asof ek vanoggend net uit Wits-taalkundiges aanhaal, want nog een van hulle, Ernst Kotzé (tans sover ek weet verbonde aan die Universiteit van Port Elizabeth) tipeer die huidige staatsbestel se beleid teenoor Afrikaans as “’n besliste proses van destandaardisering”.
Hierdie gedagtes van Ernst Kotzé sluit aan by die stelling wat ek enkele jare gelede gemaak het, naamlik dat die staat teenoor Afrikaans ‘n vorm van “negatiewe taalbeplanning” bedryf wat doelbewus daarop uit is om die taal af te takel en uiteindelik tot niet te maak. Die huidige skuiwe teen Standaardafrikaans verteenwoordig bloot die jongste salvo in ‘n proses wat reeds kort ná 1994 gemanifesteer het.
Binne die verwronge denke van die revolusionêre word ‘n aandrang op die standaardtaal en op taalsuiwerheid onmiddellik gelykgestel aan ‘n versugting na rassesuiwerheid. Daar word openlik gesê dat diegene wat aan die standaardtaal vasklou, eintlik steeds apartheid voorstaan. Indien die slagspreuk dat Afrikaans die apartheidstaal is oor die afgelope aantal jare ietwat afgeneem het, word ‘n nuwe persepsie dat die standaardtaal eintlik ‘n “produk van apartheid” is weereens aktief bevorder.
Ongelukkig is dit so dat taal en ras in Suid-Afrika so verstrengel geraak het dat ons die twee moeilik gaan ontstrengel. Deel van die antipatie teen Standaardafrikaans wat hom die afgelope tyd sigbaar geraak het, spruit uit ‘n soort rasseressentiment jeens Afrikaners en blankes in die algemeen. Terwyl Afrikaners hoop dat Afrikaans so wyd as moontlik gepraat en geskryf sal word, ook deur bruin en swart, geld die omgekeerde kwalik. Breyten Breytenbach het gepraat van die bruinmense as die “hekwagters by Afrikaans” wat in die taal ‘n voertuig vir regstellende aksie sien en toenemend blankes van gesag of invloed oor Afrikaans wil uitsluit. Ironies geskied hierdie regstellende aksie in Afrikaans en by Afrikaanse instellings omdat bruines van die breër regstellende aksie by Engelse instellings en die staat uitgesluit word op grond van die beginsel: “nie swart genoeg nie”. Dis sekerlik ironies dat vier uit die vyf Afrikaanse universiteite in die land (Stellenbosch, Kovsies, Tukkies en die voormalige RAU) tans deur bruin rektore geregeer word. Nie net beskik sulke rektore gewoonlik oor groot ego’sn (en salarisse) nie, maar onder hul heerskappy het daardie instellings ook teen ‘n rasende vaart verengels omdat hulle eenvoudig nie omgee vir Afrikaans nie.
Deel van die polemiek rondom ras, taal en Afrikaans kan teruggevoer word na die Amerikaanse kultuuroorlog, oftewel “culture war”, aangaande Standaardengels in die VSA. Daar word reeds geruime tyd gesê dat “Black English” ‘n dialek of sosiolek van Amerikaanse Engels verteenwoordig en daarom erkenning behoort te geniet. Swart Amerikaanse kinders mag nie op skool vir taalfoute gepenaliseer word nie. Oor die algemeen word die gebrekkige skoolprestasie en hoë uitvalsyfer van swart leerlinge insgelyks aan diskriminasie teen hul variant van Engels en rassistiese blanke onderwysers toegeskryf.
‘n Aansienlike aantal bruin akademici in Suid-Afrika het in die VSA gestudeer of staan onder invloed van die denke wat in die sogenaamde “Black Studies”-departemente aan Amerikaanse universiteite gepropageer word. Trouens, hoewel die Naspersgroep in sy koerante dikwels na “bruin intellektuele en skrywers” verwys, verwerp leidende figure in daardie groep juis die term “bruin” en beskou hulself as “swart”. Deur swartheid te omhels, word hulle deel van die groter Afro-Saksiese kultuur en beweging, in die VSA, maar ook elders op die Afrikakontinent.
Die aandrang op die transformasie van Afrikaans en die hernormering van die taal weg van wat die “blanke standaard” genoem word, kan dus aan so ‘n eksplisiete swart selfbewussyn, “made in the USA”, teruggevoer word. Die nuwe, revolusionêre Afrikaans van die toekoms, moet ‘n soort swart Afrikaans na die model van “Black English” wees wat van die huidige “suiwer en Nederlandse” standaardtaal afskeid sal neem.
Dit ly geen twyfel dat die Afrikaanse standaardtaal, sowel vir Afrikaners as nie-Afrikaners ‘n spesifieke identiteit uitdruk nie. Soos Anna Coetzee dit in die slotwoord van haar artikel oor “Afrikaans, kreools-dialektiese kerne, identiteit en literatuur” stel:
“Elkeen van ons beweeg elke dag in ’n multidimensionele taalruimte. Ons talige keuses daaruit word soms deur sosiaal-politieke magte gedetermineer en soms doodnatuurlik deur universeel-pragmatiese tendense. Die talige keuses wat ons maak, is gedurig maar ‘acts of identity’ en hulle is baie belangrik.”
Vir baie van ons verteenwoordig Standaardafrikaans miskien die enigste aspek van ‘n vertroude pre-revolusionêre wêreld en identiteit wat vir ons oorbly. Die res van die samelewing is reeds getransformeer en met die nuwe kultuur en identiteit ingevul. In sommige opsigte verteenwoordig Standaardafrikaans dus ‘n soort “laaste loopgraaf” in die Afrikaner se identiteitstryd. Verloor hy dit, hou hy op om te bestaan en kan hy net sowel emigreer en in Australië of Kanada gaan verengels soos vele al doen.
Die slagordes is reeds opgestel. As ‘n mens Magdaleen Kruger, die hoof RSG kan glo, is daardie organisasie reeds verbind tot die transformasie van Afrikaans en die geleidelike afskaffing van die huidige standaardtaal. Vanuit die Kaap en gedra deur die magtige Kaapse mediagroep, Naspers, kom ‘n golf van anti-Afrikanerressentiment wat die standaardtaal as ‘n stuk rou senuwees van die Afrikaner sien wat verder gepynig moet word. Afrikaners verkeer reeds teen die planke in die sosiopolitieke kryt en daarom moet die uitklophou nou geplant word deur Standaardafrikaans te vernietig.
Een van die absurdste gebruike van RSG is die afskaffing van die beleefde voornaamwoordvorm. Almal, selfs ministers, regters of ouer persone, word voor die voet getutoijeer of ge-jy-en-jou. Blykbaar gaan dit daaroor om Afrikaans nader aan ‘n kreoolse norm te kry. Een argument wat ek op die lug gehoor het, is dat Engels sy “thou” verloor het, daarom behoort Afrikaans ook daarmee weg te doen.
Tydens die RSG-“Praat Saam”-debat op 16 Maart 2012, het Magdaleen Kruger, die hoof van RSG, gesê :
“Die radio, die Afrikaans by die openbare uitsaaier, is destyds in ‘n mate, by gebrek aan ‘n ander woord, gekaap deur daardie groepie wat die Afrikaans van daardie tyd gestandaardiseer het. Ongelukkig is daardie kaping nou nog nie heeltemal opgelos nie. En dit is tot ‘n mate ‘n probleem, dat ons die wit Afrikaanssprekers nog moet help bevry – ek is een van die wit Afrikaanssprekers – dat ons moet kyk na ‘n nuwe standaardisering van Afrikaans… Ons is nog te vasgevang in die Standaardafrikaans wat eintlik nog van vroeër jare kom toe daardie Standaardafrikaans die media gekaap het.”
Magdaleen Kruger het ook ‘n beroep gedoen op Gerda Odendaal, ‘n taalkundige en Ph.D.-student aan die Universiteit van Stellenbosch om ‘n “nuwe, gestandaardiseerde Afrikaans” te skep. Kruger het gesê: “Gerda, as julle ook die leiding daar kan neem, dit sal fantasties wees, dit sal baie help en ons het dit verskriklik nodig. So vir my is dit belangrik dat ‘n nuwe, gestandaardiseerde Afrikaans kom wat dan op ‘n sekere vlak gebruik kan word en dat die radio ook vir die wye verskeidendheid Afrikaans voorsiening kan maak. Maar van die radioluisteraars sal kopskuiwe moet maak, aan beide kante.”
Die “verskeidenheid Afrikaans” waarvan daar hier gepraat word, het niks met streeksverskille of dialektiese verskille te make, soos hoe Duits in Duitsland byvoorbeeld van Duits in Oostenryk verskil nie, maar met die kreoliseringsproses waardeur Standaardafrikaans deur Engfrikaans of Engels-kreools vervang moet word.
Die vraag is hoe diegene wat met Standaardafrikaans en ons hele literêre tradisie identifiseer daarop moet reageer? Oor die algemeen word ‘n aandrang op taalsuiwerheid egter as verstok of outyds voorgehou en weens die invloed van Amerikaanse Engels praat ‘n groot deel van die jeug reeds ‘n vorm van kreools so reg na die regime se hart.
Toynbee skryf iewers in sy Study of History oor die verskynsel van dekadensie en kulturele verval wat deur eeue en millennia heen sekere beskawings en tydperke gekenmerk het. Dat Suid-Afrika vandag in ‘n klassieke sin ‘n dekadente maatskappy is, kan kwalik ontken word. Steeds volgens Toynbee, ervaar mense wat tydens oorgangstydperke tussen voortreflikheid en dekadensie leef ‘n geweldige frustrasie, smart en sinneloosheid.
Die meeste Afrikaners wat vóór 1994 op skool of universiteit was en vir wie Standaardafrikaans ‘n onaantasbare gegewe was, beleef vandag ‘n intense gevoel van vervreemding en van byna universele dekadensie.
Soos patrisiërs tydens die meer dekadente jare van die Romeinse Ryk, kan ons bloot nostalgies mymer oor dít wat was en met verbasing die oppervlakkige vertoon van ons tyd gadeslaan. Of ons fulmineer tevergeefs oor anglisismes, domheid en gebrek aan kennis van die standaardtaal.
Vandag praat die hele Suid-Europa kreole van Latyn. Met die verlies aan sy Germaanse leksikon en grootskaalse invoer van Franse leenwoorde tydens die Normandiese inval, is tagtig persent van Engels ook maar eintlik kreools-Latyn. Dus leef Latyn, die uitgestorwe taal, in die kreole voort. (Desnieteenstaande – en dis iets wat Anna Coetzee ook opmerk – word daar nêrens in die taalkunde na Frans, Duits, Italiaans of Spaans as “kreoolse tale” verwys nie, want natuurlik het hulle sedert die Renaissance kultuurtale geword.)
Daar is egter nog iets wat die vergange Romeinse republiek aan die wêreld nagelaat het: satire. Dié vorm van letterkunde word allerweë gesien as “die weerwraak van die patrisiër op die plebejer”.
Te midde van soveel vulgêre mense wat so verkeerd praat en skryf, as hulle selfs in staat is om te skryf, is daar vandag in Suid-Afrika genoeg stof vir satire om geslagte Afrikaanse skrywers, dramaturge en filmmakers besig te hou. Spot en humor is gedugte wapens in die taalstryd wat ons nog nie na behore benut het nie.
Die geskiedenis van moderne kreole wat standaardtale oorwin het, is egter ook taamlik kort, sover my wete strek. In ‘n hoogs tegnologiese tydvak, kan tale of sosiolekte sonder ‘n tegniese woordeskat kwalik met gevestigde standaardtale meeding. Afrikaans is een van die tale wat algemeen op die internet gebruik word en staan op die vooraand van ‘n digitale ontploffing as die totaliteit van ons geskrewe letterkunde waarskynlik op die internet of in e-boekvorm toeganklik gaan raak.
In dié opsig is ek optimisties dat ons die huidige taalstryd gaan wen en dat Standaardafrikaans kwalik die onderspit teenoor Lisenkoïsme gaan delf.
Maar dis belangrik dat ons hier en daar ‘n goeie satire oor die selfversekerde revolusionêre en hul quijotiese transformasieprojek moet skryf.
