Romney loop ver voor in jongste peiling

Indien die Amerikaanse presidentsverkiesing nou gehou word, sal die Republikeine se feitlik aangewese kandidaat, Mitt Romney, met ‘n yslike meerderheid stemme wen.

Volgens Rasmussen-opnames se jongste peiling wat Vrydag gepubliseer is, sal Romney 50% van die stemme trek met Barack Hussein Obama wat net 43% sal kry. Vier persent van die kiesers wat aandui dat hulle wel gaan stem, sal ‘n derde kandidaat verkies terwyl sowat drie persent onseker is.

Wat interessant is van die opname se uitslag is dat dit kom ‘n dag nadat Obama gesê het dat hy huwelike tussen homoseksueles steun, terwyl Romney aangedui het dat hy by sy standpunt staan dat ‘n huwelik slegs tussen ‘n man en ‘n vrou kan bestaan.

Die linkse media soos CNN en die NY Times het Romney onmiddellik geloop en hom as agterlik en bekrompe bestempel, maar dit wil voorkom of hulle andermaal die gevoel en sieninge van die deursnee Amerikaanse kieser verkeerd lees.

Dit is natuurlik nog baie vroeg in die verkiesing wat eers oor net meer as 5 maande plaasvind, maar die syfers moet tog as betekenisvol gesien word. Wat dit veral betekenisvol maak is dat daar besliste aanduidings is dat Romney, ‘n Mormoon, nog nie geheel en al deur Republikeinse kiesers aanvaar was nie en van hulle het die afgelope week selfs weer vir Ron Paul gestem in ‘n voorverkiesing al het hy nie die geringste kans om Romney in te haal nie.

Hierdie mense – hoofsaaklik konserwatiewe Christen-evangelistiese Republikeine – het klaarblyklik nou sterk na Romney en teen Obama geswaai oor presies die kwessie.

Obama se ongewildheid by Amerikaanse kiesers is ook duidelik uit die daaglikse peiling wat vra of kiesers dink dat Obama ‘n goeie president is of nie. Altesaam 37% gee Obama goeie of baie goeie punte vir hoe hy sy taak verrig, maar 48% sê hy is maar power – veral wat die ekonomie betref.

Maar kiesers is oor die algemeen glad nie gelukkig met hulle politici nie. Sowat 65% is behoorlik woedend oor die federale regering se aksies en soveel soos 53% dink dat nie een van die partye ‘n goeie begrip het van wat gedoen moet word nie.

En net om sout in die wonde te vryf het ‘n ongekende 68% aangedui dat hulle die hele kongres in Washington met nuwe lede sal wil vervang as hulle dit net kon doen. Net 12% sê hulle sal weer vir die huidige politici stem en ‘n yslike 20% is onseker.

Die peilings reflekteer ook ‘n aansienlike mate van onduidelikheid en wisselvalligheid – veral oor Romney se steun. Hoewel hy so goed gevaar het in die jongste peiling, het ‘n peiling enkele dae gelede in Massachusetts, wat Romney eintlik as sy tuisstaat beskou, aangedui dat sowat 56% van die kiesers daar eerder vir Obama sal stem met slegs 35% wat vir Romney sal stem. Die staat is egter bekend vir sy liberale meerderheid.

In die staat van Nevada het meer as 50% kiesers hul steun vir die Republikeinse senaatskandidaat uitgespreek teenoor slegs 40% wat die Demokraat sal steun. Maar ‘n feitlik gelyktydige opname in dieselfde staat het aangedui dat Obama daar teen Romney voorloop met 52% teen 44%. Dit is die soort anomalië wat maak dat ‘n mens die peilings met aansienlike versigtigheid moet benader.

Олександр Васильович Фільчаков

Maak 'n opvolg-bydrae