Volgens brig. Thulane Ngubane is 34 mans en 24 vroue in hegtenis geneem sedert die betogings Maandag begin het.
Hulle word aangekla van openbare geweld, opsetlike saakbeskadiging en plundery. Hulle sal na verwagting binnekort in die hof verskyn.
“Die grootste probleem van die gemeenskappe, wat onder die Kagisano Molopo-distriksmunisipaliteit val, is glo die behoefte aan ‘n teerpad wat die betrokke dorpe met Ganyesa verbind.”
Ngubane het gesê inwoners is woedend omdat hulle drie tot vier jaar gelede al geteerde paaie beloof is.
Die betrokke dorpe sluit Tlhapeng, Dipudi, Tsaodi, Kgokgole, Southey, Eliasm en Tshaneng in.
“Daar is ook onluste in Lomenyaneng en die Mogwase-township.”
Leerlinge van laer- en hoërskole is Woensdag gedwing om by die oproermakers aan te sluit.
“‘n Drankwinkel in Southey, ‘n klaskamer by die Ramadile-laerskool in Tlapeng en ‘n ou gebou van ‘n plaaslike kliniek in Elias is deur betogers aan die brand gesteek,” het Ngubane gesê.
Winkels wat deur buitelanders bestuur word, is ook Woensdag geplunder en gevandaliseer.
‘n Swanger vrou het Dinsdag in Southey gesterf toe ‘n ambulans deur betogers daarvan weerhou is om die dorp binne te gaan. Ngubane het gesê die ambulans is deur ‘n oproerige skare gedwing om om te draai.
“Die polisie het Woensdag probeer om die situasie onder beheer te bring nadat gemeenskapslede van Dipodi en omliggende dorpe begin het om klippe te gooi na verbygaande voertuie en weivelde en bande aan die brand te steek.”
