Rego Modise (17), ‘n graad 11-leerling by Wagpos Hoërskool, sê sy het haar ouers oorreed om haar na Hoërskool Grenswag vir Bokkie Week se proewe neem, het The Times berig.
Modise sê haar afrigter het haar toestemming gegee.
Die meisie het geregistreer en ‘n fooi van R30 betaal, maar is later vertel dat die proewe slegs vir wit leerlinge is.
“Ek het vir hom [die afrigter Louis Koen] gesê my afrigter het my gestuur. Hy het my toe gevra: ‘Het hulle niks anders vir jou gesê nie?’ en ek het nee gesê. Toe sê hy vir my Bokkie Week is net vir wit kinders,” het sy gesê.
Koen en Daan Neethling, skoolhoof van Wagpos, kon nie vir kommentaar bereik word nie.
Ds. Peter Stans, hoof van Afrikaner Volkseie Sport (die organiseerders van Bokkie Week), sê Modise is “definitief” nie vir die proewe uitgenooi nie. Slegs spelers wat uitgenooi word, mag aan die proewe deelneem.
Hy het bygevoeg die week was net vir kinders wat “Afrikaners” is.
Stans sê ‘n speler van ‘n ander ras het nog nooit Bokkie Week bygewoon nie.
