‘n Internasionale ooreenkoms waardeur die regering ‘n ekonomiese hulppakket van R350 miljoen aan Kuba wil toestaan, is in die parlementêre komitee vir handel en nywerheid teengestaan deur die VF+.
Die internasionale ooreenkoms is op 25 November 2011 deur die regerings van Suid-Afrika en Kuba geteken, maar moet eers deur die parlement geratifiseer word. “Tydens ‘n bespreking oor die hulppakket het die VF Plus dit duidelik gemaak dat die ooreenkoms finansiële hulp aan Kuba verleen sonder dat dit enigsins gekoppel word aan vereistes rakende menseregte en hervorming wat tot demokratisering sal lei.
Die hulppakket is juis weens die gebrek immoreel en stel selfs moontlik ‘n verbreking van internasionale reg daar omdat ‘n regsplig op ‘n land soos Suid-Afrika se regering rus, veral op die ANC met sy noue vriendskapsbande met Kuba, om die Kubaanse regering te beweeg tot respek vir menseregte en demokrasie,” het adv. Anton Alberts, parlementêre woordvoerder oor handel en nywerheid, gesê.
“Suid-Afrika kry verder ook bykans geen voordele uit die hulppakket nie en afgesien van die ANC se sentiment jeens Kuba se kommunistiese leierskap, is hierdie ooreenkoms net ‘n verdere las op Suid-Afrika se fiskus, gegewe ons uitdagings soos onder andere die betaling van die Gautengse padopgraderings en die aanvulling van die Transnet-pensioenfondse,” het adv. Alberts bygevoeg.
Die VF Plus het derhalwe sy stem teen die hulppakket uitgebring.
