Die kostelike gebeure op Nuus24 het begin toe ‘n Nuus24-joernaliste, Ilze Temmingh, in ‘n meningsartikel vertel het hoe beïndruk sy was met Desmond Tutu nadat sy hom nou die dag in die Groote Kerk in Kaapstad hoor preek het.
Sy is nou nie juis ‘n gereelde kerkganger nie, maar ervaar haar Christenskap op ander maniere – soos in die natuur. Toe sy egter hoor dat Tutu gaan preek, het sy alles net so gelos en gaan luister – onder meer omdat sy elke dag op Nuus24 sien hoe lesers afgryslike, rassistiese, homofobiese, neerhalende kommentaar lewer, skryf Ilze.
Sy was tog so beïndruk met sy mooi Afrikaans (hy het in Ventersdorp grootgeword, het Tutu aan die lidmate van die oudste NG-kerk in die land vertel) en “oom Tutu – die kleurvolle man met die lekkerste lag in Suid-Afrika – doen net iets aan my. Hy is so diepsinnig; sonder pretensie”, skryf sy en wei breedvoerig uit oor die lesse wat sy sou geleer het.
Maar die arme Liezl het vergeet van haar ervarings met N24 se webblad-kommentators.
“Liewe genade! Is dit die volgende geslag floskop Kaapse joernaliste wat Naspers vir ons kweek?” het iemand onder die naam Menefrego onmiddellik gereageer. “Tutu is ‘n Afrikanerhatende opportunis, wat agter sy kerktitel geskuil het terwyl hy die ANC agenda van Afrikaneronderwerping uitvoer. Hy’s nes die res. ‘n Onderdrukker. Niks anders nie, ” skryf Menefrego
Alet Janse van Rensburg reageer toe weer op Menefrego: “Wow. Ek weerhou my gewoonlik daarvan om hier kommentaar te lewer, maar Mengefrego?, ek moet vra, ‘Op watter planeet leef jy?’ Tutu personifiseer genade. Jou gebrek aan politieke en geestelike insig spreek van iemand wat duidelik nog nooit die moontlikheid oorweeg het dat die nasionalistiese propaganda wat sy ouers twintig jaar gelede geglo het, dalk toe nié heeltemal die waarheid was nie. Meer as dit, jou feite is eenvoudig verkeerd. Ek’s klaar spyt ek het my tyd gemors om op jou belaglike kommentaar te reageer. Liewe genade! ” skryf sy.
Dit blyk toe uit haar Faceboook-profiel dat sy ‘n joernaliste by Die Burger in Kaapstad is en Menefrego loop haar:
“Liewe Burger redaksielid. Dis werklik nogal dik vir ‘n daalder om deur ‘n Kaapse joernalis daarvan beskuldig te word dat ek in ‘n kapsule (of dan op ‘n vreemde planeet) leef. Jy wat daar agter die berge sit, waar julle selfs op hierdie oomblik nog grootliks afgesonder is van die werklike Afrika… jy wat bykans met 100% sekerheid deur Stellenbosch se joernalistiekskool is, waar jy onder hande geneem is deur die George Claasens van hierdie wêreld, om jou in ‘n mooi links-liberale vormpie te druk. Daarna is jy saam met eenderse joernalistiek voëltjies (voële) in die Naspers koutjie gegooi, waar julle almal mooi saam in ‘n koor Kumbaja twiet en twitter. Maar jy noem my, wat die een is wat stroomop swem, my lewe lank teen die breinlose massa Nasperspropaganda, waarmee die Afrikanervolk vir 30 jaar al toegegooi word in die poging om ‘n tier in ‘n huiskat te verander….jy noem my die geïndoktrineerde een?! Dis nogal rich…. Ek het as kind in die destydse Vaaldriehoek van Tutu se geskrifte in die hande gekry, en was absoluut geskok oor die heeltemaal ooglopende anti-Christelike aard daarvan. Niemand het nodig gehad om my te indoktrineer nie, ek kon self lees en binne enkele reëls vele teenstrydighede met Bybelse Christenskap vind.
“Tutu was ‘n bose man, met bose bedoelinge, en ‘n leier van ‘n bose organisasie wat groot plesier uit die lewendige immolasie van sy vyande geput het….terloops, afgesien daarvan dat ek wens hulle kon ophou om die Afrikanermedia te oorheers, het ek nie veel teen die Kapenaars nie, inteendeel, ek wens julle ‘n baie spoedige transformasie tot ‘n weerspiëlende demografie toe!” skryf Menefrego. En hy/sy kry sterk steun van ander deelnemers wat die twee Naspers-joernaliste behoorlik kapittel.
Die joernaliste van Die Burger kon net antwoord met ‘n weghol-repliek: “Jy maak ‘n klomp aannames oor my, die meeste daarvan verkeerd. Ek het egter geen begeerte om met jou in ‘n argument te tree nie en is nog minder lus vir ‘n geskiedenisles. My kommentaar hier was in my persoonlike hoedanigheid.”
Menefrego se laaste woord was: “…..veilige besluit”.
Maar enigeen wat na die debat wil gaan kyk, sal sien dat die kommentaar vanoggend (Vrydag) na die vierde inset afgesny is. Menefrego se skitterende reaksies is net weg!
