Selfs die stand van die temperatuur van die ateljee moes dopgehou word in die enigste debat tot dusver tussen die twee Franse presidensiële kandidate. Die spanning loop hoog in aanloop tot die finale ronde Sondag.
In teenstelling Hollande se verklarings was die voorbereiding vir Woensdag se debat soortgelyk aan die dramatiese opbou wat gewoonlik gereserveer word vir ‘n swaargewig-bokskampioenskap.
Nicolas Sarkozy het aan die groot debat Woensdagaand tussen hom en Francois Hollande as die buiteperd vir die presidentskap deelgeneem, met die doel om die sewe-punt voorsprong wat Hollande hou in meningspeilings weg te kalwe.
Die Franse president het ‘n aggressiewe poging aangewend om sy Sosialistiese teenstander wat die eerste ronde van 22 April met 28,6% van die stemme teenoor 27,8% gewen het, in te haal. Maar meningsopnames gee Hollande konsekwent ‘n gerieflike voorsprong in die tweede ronde van 6 Mei.
Die formaat van die debat is na uitgebreide onderhandelings met die media-adviseurs vir beide kandidate vasgelê.
In die TV-gallery was 20 kameras opgestel, met elke kandidaat wat sy eie regisseur gehad het om billike dekking te verseker. Die reëls vir die aand het ingesluit geen foto’s van die kandidate en geen reaksieskote van een kandidaat terwyl die ander praat nie.
Die kamertemperatuur is tussen 19 tot 20C konstant gehou met elke kamp wat toegang gehad het om die temperatuur in die ateljee na wense te beheer.
Die kandidate het egter minder beheer oor die temperatuur van die gesprek gehad wat op ‘n stadium minder na ‘n debat as ‘n tweegeveg tot die dood toe gelyk het. Die aanvalle van albei was bitter en skerp.
