Condi Rice nog steeds gewild onder Amerikaners

Condoleezza Rice, die voormalige Amerikaanse minister van buitelandse sake onder George Bush, sê sy sien haarself nie as Mitt Romney se vise-president-spanmaat in die komende verkiesings nie, maar twee-derdes van die kiesers het ‘n baie hoë dunk van haar.

Rice se naam was verlede week andermaal in die nuushooflyne toe Romney haar genoem het as een van ‘n stuk of 15 mense wat hy dink potensiële kandidate kan wees om as vise-presidentskandidaat sy spanmaat in die verkiesings te wees. Praaglesers was die eerste in SA om die nuus te verneem.

Rasmussen-meningspeilings het ‘n dag of wat na die berigte ‘n landswye opname onder 1000 Amerikaanse kiesers gedoen en gevind dat twee-derdes van hulle ‘n baie gunstige siening van Rice het.

Die vraag het weliswaar nie daaroor gegaan of hulle dink of sy die beste spanmaat vir Romney sal wees nie, maar sy het nogtans die beste gevaar in aansien uit ‘n kortlys van name wat aan kiesers voorgehou is en oor wie hulle ‘n mening van gunstig of ongunstig moes uitspreek.

Dit is insiggewend dat ‘n groot deel van diegene wat haar in ‘n gunstige lig sien, lede van die Demokratiese Party en eintlik ondersteuners van Obama moet wees want die verdeling van Republikeine en Demokrate is op die oomblik min of meer gelyk. Rasmussen se peilings word altyd slegs gedoen onder mense wat aandui dat hulle wel in die verkiesing gaan stem en dit maak die opname meer geloofwaardig.

Sommige ontleders sien Rice se gunstige aansien onder so baie demokrate as ‘n sterk pluspunt om haar wel te oorreed om Romney se spanmaat te wees. Sy kan ‘n beduidende getal kiesers wegtrek van Obama en ‘n Romney-oorwinning amper verseker.

Of die Republikeinse partybase die swart Amerikaanse vrou sal aanvaar, is egter ‘n ander storie. Daar is juis baie sterk stemme wat in die RP opgaan dat die konserwatiewe Rick Santorum Romney se spanmaat moet wees, maar dit kan baie onseker kiesers en ook twyfelende demokrate afskrik.

Die verwagting is dat Newt Gingrich Woensdag sal aankondig dat hy hom aan die wedloop vir die RP se kandidaatskap onttrek en dat hy Romney se kandidatuur sal onderskryf. Die verwagting is ook dat die 76-jarige Ron Paul wat ook nog in die veld is, kort na volgende week se voorverkiesings uit die stryd kan tree.

Dit sal meebring dat die onderlinge twis in die RP nou end kry en Romney en die party hulle aandag ten volle aan Obama en sy swak administrasie kan wy. Voorlopige peilings dui daarop dat Romney en Obama albei op die oomblik op 45% van die steun kan staatmaak met die res onseker of mense wat eintlik ‘n derde kandidaat verkies. Daar sal dus nog baie politiek in die volgende maande bedryf word.

topcargo отзывы

Maak 'n opvolg-bydrae