‘n Meer gebalanseerde benadering tot die regulering van die media word deur die PVK se aanbevelings geskep omdat die reg van die media om selfregulering toe te pas gebalanseer sal word met die publiek se reg tot inspraak in die oorsig van die media. Groter publieke deelname in die proses om kwessies aan te spreek wanneer die media foutiewelik of oneties opgetree het, sal verseker dat individue se regte beter beskerm sal word.
Die VF Plus vind dit ook bemoedigend dat ‘n hele aantal van die voorstelle wat die party tydens die verhore gemaak het in die verslag ingesluit is. Dit sluit onder andere die volgende in:
· Geen pornografie of pornografiese material van kinders sal in gedrukte media gebruik word nie;
· Die oplegging van ‘n finansiële straf vir deurlopende en ernstige oortredings van die persombudsman se bevindings;
· Groter beskerming word gebied vir individue se reg tot privaatheid;
· Die insluiting van die audi alterem partem-reël sal verseker dat alle partye wat ‘n belang het by ‘n kwessie die geleentheid gebied sal word om kommentaar te lewer;
· Die skep van ‘n Mediaraad wat op dieselfde basis as die Uitsaaiklagtekommissie funksioneer.
Die onafhanklike gesamentlike oorsig oor die gedrukte media is ‘n groot stap in die regte rigting wat, indien die gedrukte media die voorstelle aanvaar, sal verseker dat meer gebalanseerde en objektiewe verslaggewing plaasvind.
