Hierdie sterk, maar omstrede standpunt is die afgelope week uitgespreek deur senator Marco Rubio wat genoem word as ‘n sterk kandidaat om Mitt Romney se spanmaat te wees in die presidentsverkiesing teen die einde van die jaar.
Hoewel hy glad nie Romney se naam genoem het nie en nie probeer voorgee het dat dit ook Romney se sienings is nie, moet aanvaar word dat dit ‘n goeie aanduiding kan wees van ‘n nuwe Republikeinse administrasie se buitelandse beleid.
Rubio het nie gehuiwer om hard en reguit te praat nie. So het hy onomwonde gestel dat dat die VSA sy bondgenote en ook die wêreld daarvoor sal moet voorberei dat as onderhandelings en mooi praatjies nie werk om Iran se kernbomplanne te stuit nie, ‘n “militêre oplossing” nodig kan wees.
Hy glo dat Iran nie net probeer om kernwapens te maak nie, maar dit wil gebruik om die magtigste en leidende land in die Midde-Ooste te wees. En Assad van Sirië is Iran se groot bondgenoot en daarom is dit belangrik dat sy bewind omver gegooi word.
Rubio het daarop gewys dat Amerika sedert die Tweede Wêreldoorlog ‘n groot rol gespeel het om demokrasie en vryhede in die wêreld te bevorder. Dit is grotendeels aan die VSA se leiding en optrede te danke dat daar wel vooruitgang was.
Die vraag is nou of die VSA moet terugstaan en ophou om in te meng waar vryhede, demokrasie en vryemark-beginsels bedreig word, soos sommiges, selfs in die Republikeinse Party, bepleit, of moet
hy voortgaan om die leiding te neem.
Die probleem is dat as die VSA nie die voortou neem nie, sal niemand anders dit doen nie. Die VSA was nie altyd en oral suksesvol nie, en het dit nie alleen gedoen nie, maar die steun van sy vriende gehad. Die dinge is bereik omdat die VSA die visie en die wil en ook die vermoë gehad het om op te tree. En dit is gedoen sonder dat ander lande se grondgebied of bates of onafhanklikheid hulle ontneem is.
Hy was skerp krities oor sommige optredes en besluite van die VN se Veiligheidsraad – en die een-nasie-een-stem formule van die Algemene Vergadering en die VN se Raad vir Menseregte.
En vir Rusland en sy leier, Putin, het hy geen mooi woorde gehad nie. “Putin is swak. Hy probeer homself as sterk uit maak in sy toesprake, maar hy sien oral bedreigings vir sy beheer oor Rusland. En nou sweep hy anti-westerse gevoelens op om gewild te probeer wees en aan bewind te bly.
Sommige van ons bondgenote in Europa dink toenemend dat ons onlangse toenadering met Rusland tot gevolg gehad het dat ons hulle ignoreer en selfs ondermyn. Ons sal saam met hulle moet werk om ‘n sterker NAVO te bou en voort te gaan met missiel-verdedigingstelsels,” het die seun van Kubaanse vlugtelinge wat nou ‘n senior lid van die senaat se komitee vir buitelandse verhoudinge is, gesê.
Rubio sê hy glo die wêreld kan ‘n beter en vryer en voorspoediger plek word. Die VSA kan dit nie alleen laat gebeur nie, maar die wêreld kan dit ook nie regkry sonder die VSA nie.
