Outa het ‘n aansoek voor die hof gebring vir ‘n dringende interdik om die e-tolstelsel in Gauteng te staak. Die hof het die interdik toegestaan.
Dit beteken nie die e-tolstelsel kan nie voortgaan nie. Dit beteken slegs dat ‘n volledige verhoor oor die stelsel gehou sal moet word.
Outa, die vakbond Cosatu en die Demokratiese Alliansie het vandeesweek alles probeer om die implementering van die stelsel te staak.
Cosatu beplan volgende Maandag ‘n optog teen die e-tolstelsel.
Vincent Maleka, regsverteenwoordiger van die minister van vervoer en die Gautengse LUR vir vervoer, het Dinsdag aan die hof gesê Outa is nie geregtig op nóg ‘n uitstel van die e-tolstelsel nie.
Dié stelsel is sedert April 2011 vier keer uitgestel.
Outa het Dinsdag aangevoer die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) is nie gereed om voort te gaan met die e-tolstelsel op Gauteng se paaie nie, omdat geen voorsiening gemaak is om die openbarevervoer-sektor by die tariefstruktuur uit te sluit nie.
Sanral en die tesourie het gesê die hofsaak is vier jaar te laat en het Outa daarvan beskuldig dat hy tot die laaste nippertjie gewag het om hulle tot die hof te wend.
