“Ons weet ondemokratiese prosesse is dié wat nie ander sienswyses kan verdra nie, dié wat die mag van die staat gebruik om diegene wat nie saamstem nie, te beheer,” het Malema gesê.
Hy het gesê staatsinstellings word teen hom gemobiliseer omdat sy teenstanders enigiets sal doen om hom stil te maak.
“As hulle my in hegtenis wil neem, ek het ‘n adres, hulle is welkom om my in hegtenis te kom neem,” het hy gesê.
Malema het vroeër gesê hy oortree nie die reëls van sy skorsing deur jeugligalede by sy huis toe te spreek nie. Honderde jeugligalede wat dié organisasie se konferensie in Polokwane bygewoon het, het Saterdag laatmiddag op Malema se huis toegesak.
“Wanneer julle my hier besoek en julle wil hê ek moet met julle praat, doen ek dit sonder enige vrees of guns want hierdie is my huis,” het Malema gesê.
“Omdat hierdie my huis is, is daar niemand, dit maak nie saak hoe magtig jy is, [wat] vir my kan sê jy kan net met hierdie besoeker en nie met daardie besoeker praat nie.”
“Wanneer julle hier is, is julle nie afgevaardigdes nie… julle is my besoekers, julle is my vriende,” het hy aan hulle gesê.
Malema, wat ook ‘n lid van Limpopo se uitvoerende komitee is, is in November uit die ANC en sy posisie as jeugligaleier geskors omdat hy na bewering verdeeldheid in die party gesaai het en dit in oneer gebring het.
Hy is ook vroeër die maand uit die party geskors ná hy pres. Zuma ‘n diktator genoem het.
‘n Groep jeugligalede het ook ‘n konferensie in Seshego gereël wat op dieselfde tyd plaasgevind het as die een in Polokwane. Frans Moswane, die provinsiale voorsitter, het egter aan die SABC gesê slegs één amptelike konferensie vind in die provinsie plaas – die een in Polokwane.
