Die Vryheidsfront Plus gaan ‘n klag by die Verbuikerskommissie teen SANRAL lê vir die onregverdige hoë bedrag wat gehef gaan word van padverbuikers wat nie geregistreer is vir die e-skyfie nie.
SANRAL het verlede week bekend gemaak dat nie-skyfie gebruikers ‘n bedrag van R1,75/km sal moet betaal in teenstelling met die R0,30/km vir e-skyfie gebruikers. “Hierdie verskil in heffing stel ongeregverdigde diskriminasie daar en dwing padverbuikers onregmatiglik om te registreer vir die e-skyfiediens.
Hierdie optrede word verbied deur die Wet op Verbuikersbeskerming en daarom gaan ons persoonlik die Verbuikerskommissaris, me Mamodupi Mohlala, vra om op ‘n dringende basis in te gryp en die heffing te keer,” het adv. Anton Alberts, VF Plus parlementêre woordvoerder oor vervoer, gesê.
“Dit is ook duidelik dat die minister en SANRAL tot die laaste gewag het voor hulle die bitter pil wou toedien aangesien die aankondiging gemaak is net voor die stelsel veronderstel is om in werking te tree en net binne die 14 dae soos voorgeskryf deur die SANRAL-wet (die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap Beperk en Nasionale Paaiewet 7 van 1998).
Dit onderstreep weereens die oneerlikheid van die regering. Aan die een kant maak hulle toegewings en aan die ander kant vat hulle weer terug,” het Alberts benadruk.
“‘n Mens kan net bespiegel hoeveel ander sluipbelastings gehef gaan word om te vergoed vir die feit dat SANRAL minder inkomste of dalk niks gaan genereer uit die tolstelsel,” het Alberts bygevoeg.
Die VF Plus skoei sy klagte, onder andere, op die volgende artikels van die Wet op Verbruikersbeskerming 68 van 2008:
· Artikel 48(1)(a)(i) wat onredelike en onregverdige pryse verbied;
· Artikel 40 wat ‘n verskaffer verbied om dwang te gebruik ten einde ‘n diens, soos die e-skyfiediens, te lewer. In effek dwing SANRAL deur die onregverdige hoë tarief gehef op nie-skyfie gebruikers alle padgebruikers om te registreer vir die e-skyfiediens; en
· Artikel 8 wat ongeregverdigde diskriminasie verbied.
Die VF Plus sal die Verbuikerskommissie versoek om sy magte te gebruik om die toepassing van hierdie diskriminerende en onregverdige pryse te stop.
