“Padgebruikers wat nie registreer nie, of wat nie geldige en werkende e-skyfies het nie en wat nie binne sewe dae betaal nie, sal uiteindelik ‘n aansienlik hoër tarief betaal,” het Sanral in ‘n verklaring gesê.
Die agentskap het die koste verbonde aan die verhaling van geld, insluitend die druk van fakture en skuldinvordering, aangevoer as rede vir die tarief van R1,75 per kilometer, pleks van die standaard-tarief van 30c per kilometer vir geregistreerde gebruikers.
Sanral se verklaring volg op kritiek Sondag dat die nuwe tariewe in werking gestel is sonder om die publiek te raadpleeg. Die Justice Project het ook gesê dit is onaanvaarbaar dat die minister padgebruikers “intimideer”.
Hulle het gesê dis tyd dat die motoris opstaan vir sy regte en weier om geïntimideer te word deur die regering se geboelie. Hulle het die hoop uitgespreek dat die howe die kwessie sal bylê.
Die DA het ook teen die minister uitgevaar. “Die DA is bekommerd oor die onderduimse manier waarop die minister van vervoer, S’bu Ndebele, en Sanral nuwe straftariewe in werking gestel het vir padgebruikers wat nie geregistreer is nie,” het die party se Gautengse vervoer-woordvoerder, Neil Campbell, gesê.
“Die absolute arrogansie en gebrek aan deursigtigheid waarmee Sanral die publiek deur die hele tolpad-proses hanteer is verskriklik.”
Die nuwe tariewe is Vrydag in die staatskoerant gepubliseer. Dit sal op 30 April in werking tree.
“Sanral se siening is dat betalende padgebruikers nie ‘n hoër tarief moet betaal om die kostes te dek van diegene wat kies om nie te betaal nie,” het hy gesê.
In reaksie het Sanral gesê dis die DA se versoek aan padgebruikers om nie te registreer nie wat die verbruiker meer gaan kos. Hulle het padgebruikers aangemoedig om te registreer “om so min as moontlik” te betaal.
