{jathumbnail off}


Die weste het in die afgelope 100 jaar die grootste bydrae tot ons motorwêreld gelewer. Mens dink maar net aan die Duitsers met al hulle groot vervaardigers soos Mercedes Benz, BMW, Audi, Volkswagen en Opel. Die ooste het so 50 jaar gelede besef dat indien hulle in die motorwêreld wou meeding, sou hulle produkte moet lewer wat die weste sou wou besit. Toyota, Nissan, Mitsubishi, Mazda, Honda, Suzuki en Subaru is van die bekendste Japannese vervaardigers. Daar is heelwat meer vervaardigers uit Europa en die VSA wat die weste se vlag sou kon swaai, maar die Duitsers is die voorlopers. Uit die ooste is Suid-Korea vinnig besig om die Japannese in te haal en selfs verby te steek met gehalteprodukte soos Hyundai, Kia en Ssangyong. Indië en China staan ook op die drumpel van groot sukses met vervaardigers soos Mahindra, Tata en Maruti uit Indië en GWM, Cherry en FAW uit China.
Ons het besluit om twee klein motortjies wat hoofsaaklik vir stadsgebruik ontwerp is onder hande te neem. Uit die weste die VW Polo Vivo GT en uit die ooste Toyota se splinternuwe Yaris.
Stilering
Die VW Polo Vivo is deur VW behou as ‘n meer bekostigbare opsie vir Polo-aanhangers. Hoekom dan nie? Die bougehalte is puik, asook die ruimte vir dié soort motor. Daar is wel bietjie aan die binneruim geskaaf om ‘n varser, jonger voorkoms te skep met nuwe instrumentpanele en in die GT sportiewe sitplekke. Die Yaris is nou ook baie varser en heelwat meer volwasse as sy voorganger. Sowel die Polo as die Yaris is die vlagskipmodelle in hul onderskeie reekse en beide is 3-deur- sportgeoriënteerde modelle.


Binneruim
Met die 3-deurkonfigurasie is toegang tot die agtersitplekke vanselfsprekend moeiliker as in ‘n 5-deurvoertuig. Die Polo met sy hoër daklyn en groter deure het dit egter heelwat makliker gemaak om toegang te kry as die Yaris. Beenspasie agter in die Polo is ook baie beter as in die Yaris. Die Polo is ‘n paar mm langer as die Yaris. Die Polo is toegerus met sportsitplekke en instrumente wat rooi insetsels het, baie soos in die oorspronklike Golf GTi van die tagtigerjare. Die Yaris aan die ander kant is meer stylvol, vertoon meer konserwatief en meer volwasse. Beide die motors is toegerus met ‘n rits standaardtoerusting; die Yaris is wel so effens luukser met elektronies verstelbare kantspieëls terwyl die Polo stokkies het om die verstelling te doen. Veiligheid is ook puik en beide die motors het voorste en kantlugsakke, asook ABS-remme wat remdrukverspreiding insluit. Die Polo se binneruim voel net meer sportief as die Yaris s’n, maar die Yaris gee weer die meer moderne gevoel.
Kraglewering
Onder die enjinkap van die Polo is ‘n 1,6-literenjin wat 77 Kw. en 155 Nm ontwikkel. Die Yaris se 1,3-literenjin lewer 73 Kw, maar heelwat minder wringkrag met net 125 Nm. Brandstofverbruik is soos verwag in die stadsmotors baie goed met die Polo wat 6,1 l/100km verbruik en die Yaris 5,6l/100km. Die verbruik is dan vir alle praktiese redes baie na aan mekaar, maar jy het veel meer krag in die Polo met sy 1,6-litermeultjie. Uitlaatgasse is onderskeidelik 157g/km vir die Polo en 131g/km vir die Yaris. Ons kon die versnellingsyfers wat VW aangee van 10,6 sekondes van 0-100km/u oortref met ‘n syfer van 10,2 sekondes. Die Yaris het ons teen 12,01 gemeet wat effens stadiger is as die 11,7sekondes wat Toyota aangee. Beide die motors kan gemaklik teen 140km/u toer en maksimumsnelhede van 175km/u by die Yaris en 187 km/u by die Polo is maklik bereik.
Gevolgtrekking
Sou ons in die mark wees vir dié soort motor, sou enige van die twee ‘n puik kopie wees. Ons sal egter met ons eie swaar verdiende geld eerder die Polo Vivo GT aanskaf vanweë die meer krag, groter binneruim en sportiewe karakter. Die Polo is ook R24 000 ( R152 400) goedkoper as die kleiner Yaris teen R176 800. Ons gee die Polo 4 uit 5 en die Yaris 3 uit 5.
