‘n Rasherrie het in die VSA losgebars wat golwe tot in Brittanje en Australië veroorsaak het.
‘n Rubriekskrywer van die konserwatiewe National Review, John Derbyshire, is afgedank nadat hy in ‘n ander aanlyntydskrif die wit weergawe gegee het van wat ouers aan hul kinders behoort oor te dra oor swartes.
In swart kringe word dikwels gepraat van “The Talk”. Dit behels ‘n opvoedingsessie oor die boosheid van wittes, hul rassisme en vooroordele asook die gevolge van kolonialisme. Derbyshire het in antwoord daarop wit ouers se bekommernisse oor swart geweld en onderprestasie verwoord.
Die Guardian het met ‘n snydende berig gereageer. Hulle het die hoop uitgespreek dat Theodoracopulos, eienaar van die webtydskrif, stappe teen die rubriekskrywer sal neem.
In Australië het ‘n regsgeleerde gesê dat daar wette ingestel behoort te word om sulke mense te straf.
Derbyshire het te ver gegaan in sy kommentaar oor swartes, meen die redakteurs van die National Review, alhoewel die gewraakte stuk nie in die NR verskyn het nie.
Derbyshire se artikel het aanlyn in Taki’s Magazine verskyn.
Maatskaplike sielkundiges sê dit is algemeen vir groepe mense om disfunksionele narratiewe aan te hang omdat die waarheid dikwels te verskriklik is om in die oë te kyk.
