Malawi terug onder Britse vlerk

‘n Ondersoek is geopen na dood van ‘n aktivis in 2011 wat Malawi se vorige president gekritiseer het, het sy opvolger Dinsdag gesê. Dit is een van verskeie stappe sedert die nuwe president drie dae gelede ingesweer is en verteenwoordig ‘n duidelike ommekeer van die vorige leierskap.

President Joyce Banda het ook Dinsdag aangekondig dat sy die herstel van verhoudings met hierdie arm land se buitelandse skenkers hoog op die agenda plaas, en dat sy die minister van inligting en die hoof van die staatsuitsaaier afgedank het. Banda het, ‘n dag tevore, die polisiehoof, Peter Mukhito, wat anti-regering-betogers onder president Bingu wa Mutharika geteiken het, vervang.

Mutharika, wie se begrafnis op 23 April plaasvind, is beskuldig van die vertrapping van menseregte en die wanbestuur van die ekonomie. Menseregte-aktiviste het Banda se opvolging verwelkom.

Oor die dood van ‘n 25-jarige aktivis Robert Chasowa, het Banda gesê: “Ek is ‘n ma, en ek het myself dae lank verbeel hoe ‘n moeder moes gevoel het oor die dood van haar seun. Mense moet nie… met moord wegkom nie.”

Chasowa is dood aangetref op ‘n sypaadjie by ‘n Blantyre-universiteitskampus. Hy was baie krities teen die Mutharika-administrasie. Mukhito, die polisiehoof, het aan verslaggewers gesê Chasowa het homself doodgemaak, en die polisie het twee selfmoord-notas gevind. Maar familie en vriende het gesê Chasowa het nie selfmoord gepleeg nie en dat die handskrif op die notas nie syne was nie.

Onder druk van die publiek, het die polisie ‘n nadoodse ondersoekverslag vrygestel wat verklaar het Chasowa is dood nadat hy “geval het van ‘n hoë plek.” Maar die polisie se patoloog het geweier om so ‘n verslag te onderskryf, en het gesê Chasowa is op die agterkant van die kop getref deur ‘n stomp voorwerp en daar was geen teken dat hy geval het nie.

Lottie Dzonzi, die nuwe polisiehoof, het Dinsdag gesê Chasowa se dood sal deeglik ondersoek word.

Op ‘n nuuskonferensie Dinsdag, het Banda gesê dat sy besig was met die normalisering van verhoudings met skenkers. Sy het met die Internasionale Monetêre Fonds-beamptes gepraat asook verteenwoodigers van Brittanje en die VSA.

Verlede jaar het Mutharika Brittanje se Hoëkommissaris in Malawi uitgeskop na die gesant in ‘n plaaslike koerant aangehaal is oor kommer dat die president toenemend onverdraagsaam is en menseregte nie geld nie. Brittanje, ‘n voormalige heerser van Malawi, het daarna hulp opgeskort.

Verlede maand, het ‘n Amerikaanse hulpagentskap $350 miljoen se bystand aan Malawi opgeskort.

Mutharika het IMF-advies om die land se geldeenheid te devalueer, geïgnoreer.

topcargo кидалы

Maak 'n opvolg-bydrae