Die Republikeinse kandidaat wat agtergeloop het teen Mitt Romney in die benoemingstryd, Rick Santorum, het die handdoek ingegooi. Hy was die mees konserwatiewe van die mededingers.
Santorum het pas aangekondig dat hy sy veldtog gaan staak. Hy het in ‘n hotelkamer in Gettysburg, Pa., verskyn om die aankondiging te maak.
Romney het reeds genoeg stemme om hom as die kandidaat te kroon teen Obama in November se Amerikaanse presidentsverkiesing. Alhoewel Santorum 11 state gewen het en gelyk het of hy ‘n kans het nadat hy Iowa gewen het, het Romney hom beslissend geklop.
Santorum het in sy verklaring gesê hy moet sy rol as ouer oorweeg. Sy dogter Bella is Paasnaweek in die hospitaal opgeneem. Sy is die jongste van sewe kinders en ly aan ‘n rare genetiese kwaal.
