Die beroemde Duitse digter en dramaturg Günter Grass is toegang tot Israel verbied nadat hy ‘n gedig in die Süddeutsche Zeitung gepubliseer het waarin hy die land as ‘n gevaar vir wêreldvrede voorhou.
Woordvoerders van die Sosiaal-Demokrate en die Groenparty in Duitsland het Israel se reaksie “oordrewe” genoem en Avi Primor, ‘n gewese Israeliese ambassadeur in Duitsland, het gesê die Israelse regering dra geen kennis van Duitsland nie.
Grass het gesê Israel se kernarsenaal is ‘n gevaar vir Iran. Kritici meen egter dat Israel geen land met kernaanvalle dreig nie, terwyl Iran se leiers reeds herhaaldelik gesê het Israel moet van die wêreldkaart verdwyn.
Die Israeliese minister van binnelandse sake, Eli Yishai, het die naweek gesê Grass se gedig “wakker die vlamme van haat teen Israel en die Israeliese volk aan, en hy bevorder daarmee die idee waarvan hy deel was toe hy die SS-uniform gedra het”. Grass was as jong man ‘n rekruut in die Waffen-SS.
Die verskyning van Kreeftegang in Afrikaans deur die Nobelpryswenner Grass by Praag was ‘n literêre gebeurtenis in Afrikaans en in Suid-Afrika.
Die boek het in Duitsland meer as 500 000 eksemplare verkoop en ‘n hele debat oor die Duitse geskiedenis ontketen. Die tema – die onderdrukking van geskiedenis en die meespeel daarvan in die hede – het ‘n ewe heftige bespreking onder Afrikaners ontlok as onder Duitsers.
Van die vrae wat die roman oproep is: Is daar iets soos kollektiewe skuld, en kan dit van geslag tot geslag oorgedra word? Kan ouers hul kinders se siening van die geskiedenis bepaal deur ‘n politiek korrekte opvoeding? Is die lyding van Duitsers aan die einde van die Tweede Wêreldoorlog steeds ‘n taboe-onderwerp?
Hierdie soort vrae duik voortdurend op by die lees van die Nobelpryswenner se uitmuntend geskrewe verhaal wat handel oor die keldering van die Wilhelm Gustloff, ‘n passasierskip met ongeveer 9000 vlugtelinge aan boord, op 30 Januarie 1945, deur ‘n Russiese duikboot.
