Tydens ‘n spesiale bosberaad tussen die ANC en invloedryke Afrikaanse organisasies, is daar besluit dat blankes meer “struggle”-liedjies moet leer. Verreikende besluite is ook oor die herstandaardisering van Afrikaans geneem.
Die bosberaad is Vrydag en Saterdag op ‘n wildsplaas naby Modimolle gehou. Verteenwoordigers van Solidariteit, Naspers, die Afrikaanse Taalraad, die Akademie en die Afrikaanse Handelsinstituut het saam met die ANC se kulturele lessenaar vergader om maniere te ondersoek waarop versoening in die land bevorder kan word.
Prof. Jakes Gerwel, direkteur van Naspers en Media24, het gesê: “Ons het besluit om namens alle Afrikaanses die ANC te nader om opnuut ons verbintenis tot nasiebou en versoening te bevestig. Ná ‘n openhartige gesprek, het ons konsensus verkry dat veral blankes voortaan op sigbare wyse bygestaan moet word om ‘struggle’-liedjies aan te leer en te sing.”
Die vergadering het kennis geneem van onlangse verregse besware teen die liedjie “Skiet die Boer” wat deur president Jacob Zuma tydens die ANC se eeufeesvieringe op 8 April te Bloemfontein gesing is. “So ‘n liedjie moet binne konteks gesien word, as deel van ons gemeenskaplike kultuur,” het me. Esmaré Weideman, besturende direkteur van Media24, gesê. “Ons moet verstaan waarvandaan ons kom en waarheen ons op pad is. Blankes sal groter begrip vir sulke vryheidsliedere kry as hulle dit self aanleer en begin sing.”
{youtube}QCILT7NhmIk{/youtube}
Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, wat onlangs die Markus Viljoen-medalje vir joernalistieke prestasie aan Zelda Jongbloed van Rapport, asook die Hertzogprys vir drama aan Adam Small toegeken het, het in ‘n aparte verklaring gesê: “Deur die bekroning van twee prominente bruin figure vanjaar, wil die Akademie opnuut sy verbintenis tot die reënboognasie en die transformasie van die Afrikaanse kultuur beaam.”
Die Akademie sal voortaan saam met die RadioSondergrense werk om Afrikaans te herstandaardiseer. “Die beeldryke Kaapse taal van Adam Small moet ook gesien en gehóór word, veral oor die radio. Ons moet veral enige sprake van taalsuiwerheid finaal die nek inslaan,” het dr. Dioné Prinsloo, besturende direkteur van die Akademie, gesê. Die Akademie se Taalkommissie, wat reeds 500 Engelse woorde in ‘n bylaag by die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls gevoeg het, sal in sy volgende uitgawe die aantal Engelse woorde tot “ten minste 5000” verhoog en hulle terselfdertyd by die hoofwoordelys inlyf.
Onder leiding van me. Lynette Francis van RSG is daar in aanloop tot die bosberaad ‘n radiodebat oor die transformasie en herstandaardisering van Afrikaans gehou. Die hoof van Afrikaanse Radio by die SAUK, Magdaleen Kruger, het insgelyks tydens dié debat verklaar dat Afrikaans van sy “apartheidsverlede gesuiwer moet word” en nie meer volgens blanke norme oor die radio gepraat moet word nie.
Mnre. Mandla Langa en Mongane Serote van die ANC se kulturele lessenaar het gesê hulle “is beïndruk deur die bereidwilligheid van Afrikaanses om ook deel te hê aan ons ryk struggle-erfenis. Ons is besig om begrip vir mekaar te ontwikkel. Dit kan net beter gaan as ons mekaar se kulture respekteer.”
Dr. Flip Buys van Solidariteit, Afriforum, Dagbreektrust, Virseker, die Virsekertrust, Radio Pretoria, die FAK, Soltech, Akademia en die Noordwes-universiteit het sy waardering uitgespreek vir die goeie gees waarin die vergadering plaasgevind het. “Ons veg nie vir ‘n beter verlede nie, maar vir ‘n beter toekoms,” het hy veklaar. “Sáám is ons tot veel meer in staat as apart van mekaar.”
Buys het onlangs ‘n eredoktorsgraad van die Noordwes-universiteit se Potchefstroom-kampus in ekonomie ontvang met die luisterryke geleentheid wat deur Dagbreektrust geborg is. In sy verklaring ná gister se bosberaad het hy gemeen: “Soos ek tydens my gradeplegtigheid op Potchefstroom gesê het: ‘Soliforum en Cosatu het dieselfde einddoelwit: ‘n beter Suid-Afrika. Ons praat saam, staak saam en stem saam.’ Nou moet ons nog net saamsing.”
Me. Esmaré Weideman van Media24 sal sorg dat daar ten minste een “struggle”-liedjie soos “Skiet die Boer” of “Hulle is honde, maak hulle dood” by die jaarlikse Huisgenoot-skouspel gesing word.
“Ons is almal Suid-Afrikaners. Daarom moet ons dieselfde liedere sing en ‘n gemeenskaplike betekenis daarin vind,” het sy gesê.
