Vanuit Die Burger se muwwe ideekerker: ‘liberale demokrasie’?

Die lees van Leopold Scholtz se jongste rubriek, het my genoop om soos volg te reageer.

Beste Schollie,

Dankie vir jou bydrae tot absurde humor in Afrikaans deur jouself in Beeld/Die Buiger as ‘n “liberale demokraat” te beskryf. Ek het amper van my stoel af geval soos ek lag. Dink net daaraan: die “Tea Party wyk… af van die hoofstroom van die Westerse beskawing – in elk geval sedert die Verligting”!

Watter Verligting is dit? Is dit die verligting dat jy en jou kollegas by Die Buiger vanuit jul totalitêre monopolie kan uitsaai, belaster, verguis en kan verdag maak sonder dat julle hoegenaamd deur jul slagoffers tot verantwoording geroep kan word? En sonder dat ons ooit die reg op repliek ontvang, tensy ons weke lange onderonsies met julle via die Persombudsman en ander tribunale voer?

Ek wag nog in spanning dat jy my al die wetenskaplike IK-studies deurstuur waarin die “gediskrediteerde” sielkundiges en IK-spesialiste, skrywers van The Bell Curve en ander, weerlê word wat bevind het dat Afro-Amerikaners oor ‘n gemiddelde intelligensiekoëffisiënt van 85 beskik. Ek sal seker nog baie lank daarvoor moet wag.

Intussen deel ek jou maar in by die NFM (“Non-Fox Media”) waarvan Ann Coulter in haar jongste rubriek Post-racial lynch mob praat, na aanleiding van die Trayvon Martin-geval in die VSA.

Terwyl duisende mense in Suid-Afrika gruwelik vermoor, verkrag en verontmenslik word, sit jy en jou kollegas jul tipe figuurlike halssnoermoord op kritici van hierdie bestel voort en voer met bewende wysvinger jul heksejag teen die spreekwoordelike “rassis onder elke bed”.

Ek weet nie watter definisie van verdraagsaamheid (die Latinisme “toleransie” is seker bedoel om jouself “geleerd” te laat voorkom) jy gebruik nie, maar as jy hoegenaamd al enige van die negentiende-eeuse liberale filosowe gelees het, sou jy as lid van die skuim-om-die-mond-rasseinkwisiteurs vanuit die Heeren se gracht dalk minder fanaties jou stelletjie dogmas aan ons opgedring het.

Terloops, is dit nie “rassisties” om van ‘n “Westerse beskawing” te praat nie? Soos jou kollega en geesgenoot Mad Max du Preez al vir ons in sy geleerde boeke – wat ewe intellektueel verblindend as jou Buiger-rubrieke is – verduidelik het, is die Westerse kultuur uit Afrika en veral Egipte “gesteel”. Ná grondhervorming kom kultuurhervorming, of dalk daarvoor. ‘n Mens noem dit Afrosentrisme en dit is sekerlik hoog mode op Stalinbos waar jou medepropagandis in Die Buiger se blaaie, die bekwame professor Amanda Gouws, ook ‘n verbete forensiese ondersoek na subliminale rassisme by blankes voer.

Om Coulter te parafraseer, kan ons ‘n sug van verligting slaak dat Willemientjie Potgieter en haar gesin deur twee jong swart mans uitgewis is, en nie deur ‘n blanke, blou-oog-Anders Breivik of Wit Wolf nie, anders sou julle dalk daaroor kommentaar moes lewer. En dit sou darem afbreuk gedoen het aan ons skitterende “liberale demokrasie” met sy ewe liberale sedebewakers soos jy wat sorg dat die kwasi-volksmoord wat hier woed konstant met lugverfrissers vanuit die Heeren se gracht bespuit word.

Met vriendelike groete,

Dan Roodt

депутат лобановский

Maak 'n opvolg-bydrae