Salafiste kan tot aksie oorgaan

Mohammed Merah is dood aan die einde van 32 uur van beleg. Intussen loop die polisie deur onder kritiek omdat hulle nie vroeër ingegryp het om die man te keer vóór die moorde nie aangesien die veiligheidsdiens hom reeds as verdag beskou het.

Anti-terreurspesialiste sê hulle vrees dat Merah se optrede die begin van nog aanvalle kan beteken.

Marine Le Pen het haar verbasing uitgespreek dat Merah reeds 15 keer gevang is, dat hy dopgehou en ondervra is, maar nie deur die owerhede gekeer is om tot sy afgryslike daad oor te gaan nie.

Sy advokaat wat hom voorheen verdedig het, het gesê Merah het hom nooit getref as ‘n terroris wat sulke dade kan pleeg nie, maar eerder as ‘n gewone misdadiger.

Merah, wat Donderdag in Toulouse met ‘n kopskoot gesterf het, het tydens die beleg aangedui dat hy met wapen in die hand sal sterf.

Omstanders kon ‘n laaste sarsie hewige outomatiese geweervuur buite die woonstel waarin hy vasgekeer was voor sy einde hoor. Hy was glo swaar gewapen.

Volgens die Franse polisie  het Merah elk van die moorde met ‘n kamera verfilm, het die Paryse aanklaer Francois Molins bekendgemaak.

Hy is met ‘n koeël in die kop getref tydens die intervensie van die anti-terreurspesialiseenheid Raid, en het daarna uit die badkamervenster na benede geval.

Die owerhede het hul “dankbaarheid” teenoor die polisie wat die operasie onderneem uitgespreek en praat van “verligting” in die Toulouse-streek na die dood van Merah. Een van die die drie polisiemanne wat gewond is, veg vir sy lewe.

Die nuusberig wat beweer het Merah het voorheen probeer om by die Franse infanterie aan te sluit in 2010 in Toulouse is deur die ministerie van verdediging reggestel.

Merah het glo by ‘n werwingsentrum van die Vreemde Legioen, en nie die infanterie nie, probeer aansluit, het die Franse departement van verdediging Donderdag verklaar.

Die verdagte het probeer om aan te sluit by die weermag in 2008. Hy is later in Pakistan deur Al-Kaida opgelei.

‘n Organisasie wat bande met Al-Kaida het, het vanmiddag verantwoordelikheid vir die moorde op soldate, kinders en ‘n rabbi aanvaar, berig France Info.

Kenners sê die Salafiste se invloed is besig om met rasse skrede uit te brei in elk van die lande waar die Arabiese Lente die bestaande orde reeds omvergewerp het. Frankryk word reeds geïnfiltreer deur hierdie jihadiste en die kommer bestaan dat ondergedoke agente tot aksie sal oorgaan.

Фильчаков прокурор харьков

Maak 'n opvolg-bydrae