“Die ANC is reg bewys deur Helen Zille se stelling,” het Jackson Mthembu, ANC-woordvoerder, gesê.
“Dit was tipies van die destydse apartheidregering se mentaliteit wat maatreëls in plek gestel het om swart mense daarvan te weerhou om na die sogenaamde wit gebiede te beweeg.”
Mthembu het gesê die stelling is “rassisties” en moet nie geduld word nie.
Die DA-leier se opmerking het Dinsdag ‘n bekgeveg op Twitter ontketen, omdat baie volgelinge ontsteld was oor haar gebruik van die woord “vlugteling”.
Zille het haarself egter voortdurend verdedig.
Haar stelling het verwys na rassespanning in Grabouw oor oorbevolking by ‘n plaaslike skool.
Die DA het die blaam verskuif na die departement van openbare werke se voortdurende vertraging wat die goedkeur betref van alternatiewe grond om skoolgeboue in die gebied te bou.
“Zille se rassistiese stelling bewys die DA se beleid van uitsluiting van swartes,” het Jackson gesê.
“Sy sal nooit dieselfde ding sê oor wittes wat van ‘n ander gebied in die land na die Wes-Kaap trek, of selfs mense wat van ander lande na die Wes-Kaap trek nie.
“Om Suid-Afrikaners wat vrye beweging in hul eie land het as vlugtelinge te beskryf, is dieselfde as om hulle as buitelanders te etiketteer,” het Mthembu gesê.
Toe sy Dinsdag deur ‘n Twitter-gebruiker gevra is om ‘n “vlugteling” te definieer, het Zille geantwoord: “Vlugtelinge is mense wat moet ontsnap omdat hulle regte geskend word. Dit beskryf Oos-Kaapse leerlinge presies.”
Mthembu het gesê die DA beskou swartes as nuttige stemvee om verkiesings mee te wen en niks anders nie.
“Ons doen ‘n beroep op alle swart DA-lede om die DA te sien vir wat dit is – ‘n wit, rassistiese party,” het hy gesê.
“Ons doen ook ‘n beroep op al daardie swartes wat in die leierskapstrukture van die DA is vir uiterlike vertoon om uit die DA te bedank.”
