Romney die gunsteling

Met ‘n stewige oorwinning in die voorverkiesing in die Amerikaanse deelstaat Illinois Dinsdag het Mitt Romney feitlik verseker dat hy die Republikeinse Party (RP) se kandidaat sal wees vir die Amerikaanse presidensiële verkiesing wat vroeg in November plaasvind. Sodoende kan hy geskiedenis maak deur die eerste Mormoon te wees wat ‘n kans het om president van die VSA te word.

Romney het weliswaar sy naaste teenstander Rick Santorum met meer as 10 persentasiepunte in Illinois geklop, maar kon nog nie daarin slaag om meer as 50 persent van die koukusstemme op hom te verenig nie. Hy het 47% van die stemme gekry teenoor Santorum se 35%, Ron Paul se 9 en Newt Gingrich se agt.

Hiermee het hy 41 van die staat se 54 afgevaardigdes na die Republikeine se benoemingskongres ingepalm om sy totaal op 562 te staan te bring – feitlik die helfte van die vereiste 1144 afgevaardigdes wat nodig is om benoeming te verseker. In meningspeilings loop hy ook voor sy teenstanders en hy behoort veral oor sowat ‘n maand in groot state soos New York, Texas en Kalifornië goed te vaar en groot getalle afgevaardigdes agter hom geskaar te kry.

Maar Rick Santorum weier om neerlaag te erken hoewel hy tot dusver slegs 249 afgevaardigdes kon bekom en Gingrich en Paul (onderskeidelik 137 en 71 afgevaardigdes) glo blykbaar ook dat hulle dalk nog iets in die volgende drie maande kan verrig voor die RP se benoemingskonvensie op 24 Augustus.

Woensdag het Romney egter nog ‘n groot hupstoot gekry toe Jeb Bush, seun van George en vroeër vanjaar een van die potensiële kandidate, sy gewig agter Romney ingegooi het en gepleit het vir eenheid en samehorigheid in die party.

Dit was bra betyds want daar was aanduidings dat die stryd tussen die vier Republikeinse aanspraakmakers besig was om lelik te word. John McCain, wat vier jaar gelede die verkiesing teen Obama verloor het, het juis die afgelope week gewaarsku dat die negatiewe aanvalle op mekaar besig is om die party se aansien te skaad.

Die probleem is dat daar ‘n groot deel van die party is wat allesbehalwe gelukkig is dat ‘n Mormoon hulle kandidaat kan word. Veral die sterk evangelistiese partylede in die berugte “Bible Belt” het eintlik ‘n aartskonserwatiewe soos Gingrich verkies, maar sy taamlik skokkende verlede van twee egskeidings op grond van sy buitehuwelikse manewales, het hom gou uit die veldtog geskuif. Die vierde man, Ron Paul, word nie as konserwatief genoeg gesien nie en sy ouderdom van 76 tel ook sterk teen hom.

Santorum word as baie konserwatief beskou, maar die feit dat hy ‘n Katoliek is tel weer teen hom by die WASPS – die White Anglo-Saxon Protestants – en dus die evangelisasie fundamentaliste en behoudenes. Sy goeie vertoning in die afgelope paar voorverkiesings moet egter gesien word as wyer steun vir sy uitgesproke teenstand teen homoseksuele huwelike, aborsieklinieke en Spaanssprekende immigrante en sy openlike steun vir die insluiting van kreasionisme en Intelligente Ontwerp in skoolleerplanne naas die konsep van evolusie.

Die Republikeine se probleem is dat hulle eintlik ‘n kandidaat nodig het wat nie alleen alle Republikeinse stemme op hom sal verenig nie, maar ‘n beduidende deel van die onsekere kiesers en selfs ‘n deel van die konserwatiewe vleuel van die Demokratiese Party sal kan trek om Obama te klop. En dit gaan nie maklik wees nie.

Soos dit is, gebruik Obama en sy adviseurs die huidige verdeeldheid in die RP baie goed en volgens een meningspeiling die afgelope paar dae loop hy in hierdie stadium met sowat vyf presentasiepunte voor teen wie ook al die RP se kandidaat is. Ander opnames soos die betroubare Rasmussen-peilings meen egter dat dit wil voorkom of dit ‘n baie gelykop stryd gaan wees.

Maar in ‘n land waar geld ‘n groot rol speel in verskiesings, is pas berig dat Obama reeds meer verkiesingsfondse bymekaar gemaak het as al die RP kandidate saam – en die sterk linkse media werk hard om Obama herkies te kry.

Hoe ongewild Obama ook al by baie mense in en buite die VSA mag wees, die kanse is daar dat hy weer die verkiesing vroeg in November gaan wen.

Фильчаков прокурор отзывы

Maak 'n opvolg-bydrae