Malema het gesê sommige leiers het arrogant geraak weens die mag wat die massas aan hulle gee. Hy het gewaarsku teen nog ‘n Polokwane-verkiesingskonferensie, wat gelei het daartoe dar Thabo Mbeki moes uittree as president.
“Moet nooit die massas een voor wees nie,” het Malema aan ‘n jubelende skare jeugdiges in Kimberley gesê. Baie van hulle was uitgedos in die nuwe drag vir ekonomiese vryheidsvegters, naamlik ‘n swart beret.
Voordat Malema die skare toegespreek het, het Shadrack Tlhaole, voorsitter van die ANCYL in die Noord-Kaap, Kgalema Motlanthe as leier en Fikile Mbalula as sekretaris-generaal van die ANC gesalueer.
Tlhaole het Jacob Zuma, ANC-president, gevra om nie in die openbaar kommentaar te lewer oor die dissiplinêre prosesse van Malema en ander Jeugliga-leiers nie.
Die provinsiale voorsitter van die ANC, John Block, is ook by die “saamtrek vir ekonomiese vryheid” verwelkom. Block is, ten spyte van sy wit naam, ‘n swartman.
Block het gesê die ANCYL is ‘n wettige organisasie van die ANC en is nie verban nie.
“Die ANC moet nie weghardloop vir die ANC-Jeugliga nie.”
Malema het die ANC-strukture in die provinsie geprys vir hoe hulle die beleërde Block ondersteun. Block word ondersoek vir bedrog.
“Die dae is nou donker en die vriende is min,” het Malema gesê. “Julle stuur ‘n sterk boodskap van vertroue aan die res uit deur nie weg te hardloop van Block af nie.”
Malema het Block en die provinsiale ANC-leierskap ook geprys daarvoor dat hulle nie bang is vir “politieke melaatsheid” nie, deurdat hulle ondersteuning getoon het by Sondag se vergadering.
Malema het gesê die ANC is gevorm vir ekonomiese vryheid weens grondonteiening deur “setlaars”.
“Die res [stemreg] het na die tyd gekom, maar fundamenteel het dit gegaan oor ekonomiese vryheid en die eenheid van swartes.”
Met verwysing na die ANC se dissiplinêre optrede teen hom en ander Jeugliga-leiers het Malema gesê die ANC kan nie sy kinders straf omdat hulle aktief is nie.
Hy het gesê wanneer ‘n kind “deurmekaar” is, moet die ouer hom of haar help.
“Ons kritiseer die ANC, ons kritiseer onsself en niemand moet dit persoonlik opneem nie.”
Oor werkloosheid het Malema gesê die jeug het ‘n verantwoordelikheid om die ANC weer in lyn met die Vryheidsmanifes te bring.
Hy het gesê die jeug moet veg vir die nasionalisering van myne en die onteiening van grond sonder vergoeding.
“Alle revolusionêre liedjies praat oor grond, nie oor blou ligte nie.”
Shadrack Tlhaole, voorsitter van die ANC-jeugliga in die Noord-Kaap, het vroeër met burgeroorlog en moord gedreig as iemand aan Malema raak.
Tlhaole is lid van die jeugliga se nasionale uitvoerende komitee en dien in die Noord-Kaapse uitvoerende komitee van die ANC.
Tlhaole het die umKhonto weSizwe-veteranevereniging (MKVA) in KwaZulu-Natal gekap omdat hulle Woensdag gesê het Malema sou voor ‘n vuurpeloton gesterf het in die struggle-dae.
Tlhaole het met burgeroorlog in antwoord daarop gedreig. “As dít gebeur, sal die hele Suid-Afrika daarvoor vergelding vra. Hulle soek ‘n burgeroorlog.”
Tlhaole sê die jeugliga in die hele Suid-Afrika steun Malema. Hy het pres. Jacob Zuma se uitlatings verlede week dat die jeugliga ‘n nuwe leier moet kies wanneer Malema se appèlproses afgehandel is, verwerp.
