Kony 2012 se vervaardiger haak uit

Die vervaardiger van Kony 2012 en stigterslid van Invisible Children is Donderdag in hegtenis geneem vir masturbasie en dronkenskap in die openbaar, volgens die San Diego Police Department.

Jason Russell, 33, is opgemerk waar hy in die openbaar masturbeer, motors vandaliseer en moontlik onder die invloed van ‘n dwelm verkeer, volgens die SDPD. Hy is in hegtenis geneem by ‘n besige kruising in die stad.

‘n Video-opname van Russell, naak, waar hy vreemd optree versprei tans soos ‘n veldbrand. ‘n SDPD-woordvoerder het bevestig dat Russell baie eienaardig opgetree het.

Daar word bespiegel dat Russell dalk onder die invloed van ‘n aantal dwelms kon gewees het wat hy met sy nuutgevonde rykdom kon bekostig.

Lt Andra Brown het gesê: “Tydens die evaluering het ons besef dat dit waarskynlik nodig is om hom na ‘n mediese fasiliteit te neem as gevolg van die toestand waarin hy was.”

Polisie het gesê hulle het Donderdag verskeie oproepe ontvang om 11:30 van ‘n kaal man wat deur verkeer hardloop en skree.

Russell is ná die voorval na ‘n mediese sentrum geneem.

Invisible Children se uitvoerende hoof Ben Keesey het in ‘n verklaring ná 01:40 Vrydag gesê:

“Jason Russell is ongelukkig in die hospitaal en ly aan uitputting, dehidrasie, en wanvoeding. Hy ontvang mediese sorg en is gefokus op beterskap. Die afgelope twee weke het ‘n ernstige emosionele tol op ons almal, Jason, veral, geëis en gemanifesteer in ‘n ongelukkige voorval gister.”

Sy vrou het gesê dat Kony 2012 ongekende aandag geniet en dat Russell oorweldig is.

Intussen is ‘n foto ook vrygestel wat die veldtog se vermeende pasifisme onder verdenking plaas, aangesien die Invisible Children-organiseerders met aanvalswapens in Suid-Soedan tesame met soldate poseer. Oegandese amptenare het Russell se stellings voorts veroordeel en gesê Kony is al jare lank nie meer in die land nie.

Russell het voorheen aan NBC-SanDiego verduidelik hoe die beweging by die organisasie se hoofkwartier in San Diego ontplof.

“Daar is honderde en duisende propagandastukke vervaardig – plakkate, plakkers, knope, t-hemde, en ons is besig om dit te verpak en oor die hele wêreld te stuur,” het Russell in ‘n onderhoud op 8 Maart gesê.

Nadat miljoene dollar binne enkele dae ingestroom het, ter ondersteuning van die veldtog, vrees die organiseerders dat die goue gans nou nek omgedraai is.

 

данильченко юрій броніславович

Maak 'n opvolg-bydrae