Dié “slagting” deur die apartheidsregering en sy veiligheidsmagte het begin met die dood van ‘n student, Mandla Lekhuleni, tydens ‘n studenteprotes. By Lekhuleni se huis vir sy begrafnis, is traangas en rubberkoeëls afgevuur op die opstandige roubeklaers. ‘n Voertuig het Connie Sibiya per ongeluk raakgery in die pandemonium.
Op 11 Maart 1986, by die verhoor van dié wat tydens die begrafnis van Mandla Lekhuleni in hegtenis geneem is, by die Kabhokweni-landdroshof, het die polisie nog twee mense, Mandla Shabangu en Saul Mkhabela, in die oproerige skare gedood wat die hof wou bestorm.
Na dié drie se dood was dit volgens Mthembu duidelik dat ‘n “apartheidstaat, in ‘n gewelddadige moordmasjien verander het”. Tot só ‘n mate dat aartsbiskop Desmond Tutu gehuil het by die WVK, sê hy.
Die gewese, “nie-rassige” aartsbiskop se krokodiltrane het intussen opgedroog vir die duisende wit slagoffers van plaasmoorde sedert 1994. Mthembu se toespraak het geen verwysing na die huidige vlaag moorde bevat nie.
Hy het egter die gehoor aan Mandela se inhuldigingstoespraak op 10 Mei 1994 herinner: “‘n Gemeenskap sal hier gebore word wat die hele mensdom se trots sal wees …. Nooit, nooit en nooit weer sal dit so wees dat hierdie pragtige land weer die onderdrukking van een deur die ander sal ervaar en onder die vernedering sal ly om die muishond van die wêreld te wees nie.”
Hy het Britse kolonialiste en die apartheid regime uitgesonder as die enigste aanspreeklikes.
Volgens Mthembu het swart historici en skryweraktiviste soos Govan Mbeki, Frances Meli, Sol Plaatjie en Moses Kotane ontdek dat ‘n Nederlandse Oos-Indiese Maatskappy een van sy senior amptenare gevonnis het vir die versuim om behoorlik oor die maatskappyfinansies rekenskap te gee.
Hierdie senior amptenaar, Jan van Riebeeck, is na die Kaap gestuur om ‘n halfwegstasie te bou.
“Jan van Riebeeck en die maatskappy het nie die grond gekoop vir die vestiging van hul halfwegstasie nie,” het Mthembu gesê. “Hulle het die land met geweld van die inheemse mense, wat meestal die Khois en die San was, afgeneem.
“‘n Volskaalse oorlog van onteiening is in 1657 aangeteken, inderdaad die eerste oorlog van onteiening in Suid-Afrika. Die Khoi en die San was nie opgewasse teen Jan van Riebeeck en sy troepe nie.” Aldus Mthembu.
“Toe diamante in Kimberly rondom die 1860’s en goud in die Transvaal van 1880 ontdek is, het die Britse imperiale regering begin met ‘n beleid van uitbreiding in Suider-Afrika.
“Die Boere is met geweld verwyder uit die Kaapkolonie deur die Britte en hulle het getrek in wat in die geskiedenis bekend staan as die Groot Trek na die binneland van die land en uiteindelik die skep van die Boere-republieke in die Vrystaat en die Transvaal deur die verowering van die inheemse mense op hul pad.”
