‘n Week gelede het Amanda Gouws, Christi van der Westhuizen en Jan-Jan Joubert aan ‘n bespreking oor ras en “witwees” op RSG se Praat Saam-program deelgeneem. Die program het in ‘n eensydige aanklag teen blankes en hul “rassisme” ontaard, asof swartes en bruines in Suid-Afrika nie oor ‘n veel sterker rassebewussyn beskik nie.
Agterna het ek twee e-posse aan Gouws van die Universiteit van Stellenbosch geskryf waarin ek namens die res van die luisteraars ons frustrasie met die onnosele politieke korrektheid van die drie gesprekvoerders betuig het. Vroeër vandeesweek het sy ‘n rubriek in Die Burger Besin oor hoe ons na ras kyk geskryf waarin sy weereens teen rassistiese blankes uitvaar wat glo nie verstaan wat sy met “witwees” bedoel nie.
Sy skryf: “Hulle praat uit ’n posisie van wit meerderwaardigheid en praat met ’n groot gebrek aan erns oor iets soos volksmoord.”
Niemand kan ontken dat ras in Suid-Afrika tans ‘n veel groter dilemma verteenwoordig as ooit onder apartheid nie. Pleks dat die rassebewussyn van swartmense afgeneem het, het dit dramaties verhoog. So pas het Irvin Jim, die algemene sekretaris van Numsa in ‘n betaalde advertensie in Business Day FW de Klerk se verdediging van die grondwet verwerp. Irvin praat openlik van die “blanke samestelling” (“white complex”) en van ‘n “wit kapitalistiese oorheersingsdrang”. Duidelik beskik Jim oor ‘n ontwikkelde rassebewussyn.
Amanda Gouws se angsvallige verontskuldiging vir haar Amerikaanse clichés oor “witwees” blameer soos gewoonlik die blanke minderheid vir rassepolarisering waaroor hulle min, indien enige, beheer het. Die alewige gesanik oor die “sosiale konstruk” klink al soos ‘n lekeprediker wat net een teksvers ken, behalwe dat dit swak Afrikaans is.
‘n Amerikaner wat homself as ‘n “rasrealis” beskryf, Jared Taylor, verduidelik in sy boek “White Identity” dat Amerikaanse blankes vir dekades probeer het om “kleurblind” te wees en ‘n wêreld “anderkant ras” te skep. Maar soos hy dit stel: “Swartes onderhou en voel trots op ‘n intense, strydvaardige rassebewussyn. Dis net ‘n kwessie van tyd voor dit aanleiding gee tot ‘n ewe openlike blanke rassebewussyn.”
Dit is insgelyks waarop ons in Suid-Afrika afstuur, want as “magtelose minderheid” (NP van Wyk Louw) moet blankes vir lief neem met sportkwotas, wanvoorstellings van ons geskiedenis, naamsveranderings en ‘n graad van swart-op-wit geweld wat aan volksmoord grens. Terloops, Gouws haal in dié verband uit my e-pos aan haar aan, dog sonder om my by die naam te noem.
Suid-Afrika is boonop die enigste land ter wêreld waar ‘n meerderheid met politieke, militêre en institusionele mag hulself teen mededinging moet beskerm van ‘n magtelose minderheid wat nie eens tien persent van die bevolking uitmaak nie. Dit heet “regstellende aksie”, maar is veel nader aan die “strukturele rassisme” waarna Gouws verwys.
Ras is ‘n werklikheid wat kwalik verander kan word deur “anders daarna te kyk”. Vir swartmense verteenwoordig dit ‘n politieke wapen en vir blankes ‘n bron van groot ongemak, skuld en verwarring waartoe eensydige propaganda soos dié op “Praat saam” bydra.
Die vermeende rassemeerderwaardigheid waarna Gouws verwys, kom deesdae baie min voor. Dis seker nie etiket nie, maar is betreklik skadeloos. Hierteenoor werk regstellende aksie en meerderheidsoorheersing verwoestend op blankes se selfbeeld en lewenskanse in. Die nuwe armblankes en hul ellende getuig daarvan.
