‘n Oud-Suid-Afrikaner, Greg Smith, het 12 jaar lank vir Goldman Sachs gewerk, lank genoeg om die trajek van sy kultuur, sy mense en sy identiteit te begryp. En hy kan eerlik sê dat die omgewing nou so giftig en vernietigend is as wat hy nog nooit aanskou het nie, sê hy.
Smith is ‘n Stanford-gegradueerde, voormalige Rhodes Scholar-finalis en internasionale tafeltennisspeler.
Goldman Sachs is een van die wêreld se grootste en mees belangrike beleggingsbanke en dit is ook ‘n integrale deel van globale finansies, maar nie ‘n plek vir mense met ‘n gewete nie, meen Smith.
Wanneer die geskiedenisboeke geskryf word oor Goldman Sachs, sal die huidige hoofuitvoerendebeampte, Lloyd C. Blankfein, en die president, Gary D. Cohn, die skuld moet dra dat die 143-jarige instelling die pad byster geraak het. Smith sê hy glo werklik dat die firma se immorele aard die enkele grootste bedreiging vir hul langtermyn-oorlewing verteenwoordig.
Smith sê kliënte word van slegte raad bedien, naamlik om handel te dryf met alles wat die grootste wins vir Goldman sal inbring, selfs al beteken dit ‘n risiko of verlies vir die kliënt.
In vergaderings word daar glo nie een enkele minuut spandeer om vrae te vra oor hoe kliënte gehelp kan word nie. Hulle word as gewillige skape beskou wat besteel word deur die maatskappy.
Oor die afgelope 12 maande moes Smith hoor hoe vyf verskillende besturende direkteure verwys na hul eie kliënte as “Muppets,” soms oor interne e-pos.
Dit verstom hom oor hoe min senior bestuur ‘n basiese waarheid miskyk: Indien kliënte nie vertroue in hul banke het nie sal hulle uiteindelik ophou om met sulke banke sake te doen. Dit maak nie saak hoe slim jy is nie, sê hy.
Greg Smith het intussen bedank as ‘n Goldman Sachs uitvoerende direkteur en hoof van die firma se Amerikaanse aandele-afgeleides in Europa, die Midde-Ooste en Afrika.
