Die Vryheidsfront Plus vind dit skokkend dat Transnet R8,3 miljard verloor het weens ‘n gebrek aan interne beheer terwyl die pensioenarisse wat Transnet help opbou het in armoede moet leef. “Indien Transnet behoorlike interne maatreëls toegepas het, soos statutêr vereis word, sou die vermorsing nie plaasgevind het nie en kon R2 miljard daarvan aangewend gewees het om die TPF en TTVVF aan te vul, soos vereis deur die parlementêre besluit wat in November 2010 geneem is,” het adv. Anton Alberts, VF Plus-parlementêre woordvoerder oor ekonomiese sake, gesê. “Dit is skreiend dat Transnet van die pensioenfondse vereis om spaarsamig op te tree deur slegs 2% verhogings elke jaar toe te staan, maar self geld vermors asof daar geen einde in sig is nie. Geen wonder die pensioenarisse voel dat daar van hulle gesteel word en dat Transnet nie omgee vir sy eie mense nie,” het Alberts bygevoeg.
Die VF Plus het derhalwe ‘n baie senior regspan saamgestel om die ongeregtigheid in die hof reg te stel. Die regspan is tans besig om voor te berei vir die hooggeregshofaansoek wat teen Transnet geloods sal word. Intussen het Transnet op die VF Plus se aanmaningsbrief gereageer en die verweer geopper dat die parlementêre opdrag wel gedeeltelik nagekom word. Dit is egter geen verweer nie omdat die volledige parlementêre besluit verontagsaam word en die gedeeltelike voldoening uit die surpluses van die twee pensioenfondse self kom en nie vanaf Transnet, soos vereis nie. Die VF Plus gaan om hierdie rede voort met regsaksie.
Intussen het die VF Plus ook skriftelike parlementêre vrae aan die minister van openbare ondernemings, mnr. Malusi Gigaba, gerig om rekenskap te gee aangaande die salarisse, bonusse en reisuitgawes van Transnet se direkteure en bestuur ten einde enige verdere misbruik van fondse bloot te lê.
