Beeld berig dat ‘n swart administrateur by die departement van onderwys glo die baasbrein agter ‘n onlangse plaasmoord is.
Die rooftog en moord op mnr. Dries du Toit in Januarie op sy plaas naby Ventersdorp is haarfyn beplan deur Joseph Lekene (47), eers onderwyser en voormalige skoolhoof.
Hy het dié bewerings Dinsdag tydens sy borgtogverhoor in die Ventersdorpse landdroshof ontken en gesê hy het du Toit nog nooit gesien nie.
Lekene werk al 27 jaar by die departement van onderwys ten spyte daarvan dat hy in 2006 skuldig bevind is dat hy gesteelde vee verkoop het.
Lekene en Piet Mosenyegi (27), Fillip Mathibela (30), Frans Mokgosang (33) en Frank Moilwa (32) word daarvan verdink dat hulle Du Toit vermoor het.
Sy vrou, Lettie en sy suster, me. Elizabeth de Villiers (64), is tydens die aanval beseer.
Een van die beskuldigdes, Mosenyegi, het opdrag van “Meneer” – Lekene se bynaam – gekry om foto’s van binne die plaashuis te neem. Hy het by die boer gewerk. Vergaderings om die rooftog te beplan, is by “Meneer” se huis gehou.
Lekene het glo misdadigers uit Pretoria gereël om die plaashuis se kluis te kom oopbreek.
