Nog ‘n Stellenbosse akademikus trap klei oor apartheid

Nog ‘n Stellenbosse akademikus het kniediep in die slaggate van die politiek getrap toe hy beweer het dat ‘n mens apartheid goedpraat as jy evolusie verwerp.

Prof Jurie van den Heever, bekende paleontoloog van US en gereelde deelnemer aan RSG se radioprogram Hoe Verklaar Jy Dit, het in reaksie op ‘n nuusberig oor skole wat nie die evolusieleer behoorlik wil doseer nie en kreasionistiese sieninge ook aan kinders leer, aangevoer dat die teenstand teen evolusie uit die dae van die ou “apartheids-regering” kom toe die kerke beheer oor skoolleerplanne gehad het en dat enigeen wat evolusie teenstaan diskriminasie ondersteun.

“My basisargument is: As jy teen evolusie is, is jy vir apartheid. As jy steeds glo die Suid-Afrikaanse samelewing is verdeel in rasse, nie ekotipes nie, en dat die rasse van mekaar verskil op grond van rasse-eienskappe… ignoreer jy evolusie heeltemal,” het hy volgens ‘n nuusberig op Nuus24 gesê. Nie een van Naspers se dagblaaie het, volgens hul webbblaaie, vandag die berig gepubliseer nie.

Volgens hom is die stand teen evolusie ‘n oorblyfsel van apartheid wat daarop gemik was om mense as deel van verskillende groepe te klassifiseer en dat dit eintlik ‘n nalatenskap is van ‘n tyd toe godsdiens die politiek beïnvloed het.

Hy skryf verder: “Ek is ‘n Afrikaner en ek kom van ‘n Nederduits Gereformeerde agtergrond en ek het hierdie hele ding probeer ontrafel. Evolusie is uit die skoolkurrikulum verban as deel van Christelike Nasionale Onderwys. Vandag het ons steeds baie mense en veral onderwysers met bagasie – dáárdie soort bagasie – wat ‘n skadu gooi oor evolusie.”

Sy uitlatings het hom egter die gramskap van ‘n groot aantal mense op die hals gehad. In kommentaar op die webblad van Nuus24 loop mense hom van ‘n kant af hieroor. Die meeste van hulle is sterk anti-evolusioniste wat die kans gebruik om te beweer dat evolusie nie bewys is nie, net ‘n teorie is en vals is. Maar daar is ‘n hele aantal wat Van den Heever kritiseer omdat hy politiek insleep in ‘n wetenskaplike debat en dan nog boonop tipiese “Cape Liberal” politiek daarby.

En dis nie net anti-evolusioniste wat die professor kritiseer nie. In die heel eerste reaksie het Rouan van die Wes-Kaap gevra: “Nou wat as jy vir evolusie EN vir apartheid is?” En ‘n ander een het gevra: “Ek het probleme met evolusie EN met apartheid. Nou waar laat dit my?”

Die kommentaar is soms kwaai beledigend, soos: “Ek dink Jurie van den Heever moet minder haasgras rook!”

Van die sterkste kritiek het van die kant van vrydenkende Afrikaners gekom. So het Thys Human, ‘n self-erkende non-teïs, maar ondersteuner van Afrikaner-selfbeskikking, geskryf:

“Jurie vd Heever, sien jy nou wat het jy aangevang met jou wetenskaplik goedgefundeerde sieninge maar jou politieke onnoselheid!

“Kyk net al die twak wat hierbo oor evolusie verkondig word en ek – en baie duidelik van my ander vriende wat gereeld in hierdie ruimtes hierdie soort mense aanvat – durf dit nie waag om op te staan vir evolusie nie want niemand, maar niemand, stel op die oomblik eens belang om die positiewe kant van die argument te hoor nie. Jy het NIE die saak gedien met jou onnodige politiek nie. Jy was DOM! DOM! en DOMMER!”

Wat interessant is is dat nie een van Naspers se dagblaaie verlede week Nuus24 se berig oor die onderwyser wat padgee omdat hy feitlik verbied word om evolusie aan skoolkinders te doseer, gedra nie en vandag (Dinsdag) het nie een van hulle die berig oor Van den Heever se uitlatings gedra nie. ‘n Mens kan net wonder hoekom nie.

Dis die tweede keer die week dat Naspers se gunstelingskrywers “regsgesindes” aanvat oor hulle teenreaksie teen die Kaapse linkse politiek. Maandag het Amanda Gouws in Die Burger bitterlik gekla oor sy deurloop oor dinge wat sy verlede week kwytgeraak het in ‘n radioprogram saam met Christi van der Westhuizen en Jan-Jan Joubert. “Dit gaan daaroor dat ons moet besin oor wat dit beteken om uit ‘n posisie van wit bevoorregting te dink en te doen en hoe ons dikwels paternalisties of rassisties optree teenoor ander mense wat ons dink minderwaardig is,” skryf sy in ‘n rubriek – en wonder dan hoekom sy aangevat word.

лобановский харьков класс

Maak 'n opvolg-bydrae