Volgens kapt. Frederick van Wyk het die moeilikheid omstreeks 05:00 begin, toe ongeveer 150 inwoners bande gebrand het op die hoek van Buitenkant- en Graaffstraat in die dorp.
Pendelaars het gesukkel om te gaan werk omdat onlusmakers sommige voorgekeer het.
‘n Plaaslike leier wat met die ontevredenes onderhandel het, het probeer om die skare toe te spreek om hulle te kalmeer, maar sonder sukses.
Betogers het daarop aangedring om met die Theewaterskloof-distriksmunisiplaiteit se bestuurder, Stan Wallace, te praat en wou ‘n griefskrif van eise aan hom persoonlik oorhandig.
Ongeveer 800 mense het toe na die munisipale kantore gestap en het openbare eiendom verwoes onderweg na die kantore.
“Die griefskrif is aan Wallace oorhandig, maar die skare was steeds oproerig. Die betogers is sonder sukses gewaarsku om uitmekaar te gaan,” het Van Wyk gesê.
Die polisie het toe waterkanonne ingespan om die skare te verwilder. Inwoners het in reaksie klippe en bakstene begin gooi. Hulle het die poskantoor en die munisipale kantore beskadig.
Hulle het ook ‘n bierbottel na iemand gegooi, waarna die polisie met rubberkoeëls losgebrand het.
Die betogers is daarna na die plaaslike township Goniwe Park, waar hulle die gemeenskapsaal afgebrand het.
Van Wyk het gesê ‘n saak van openbare geweld en opsetlike saakbeskadiging word ondersoek. Niemand is in hegtenis geneem nie en geen beserings is aangemeld nie.
