Sowat 300 voormalige soldate van die opposisie kampeer reeds vir weke buite die Renamo Party se hoofkwartier in Nampula. Hulle sê hulle wag vir opdragte van die Renamo-leier Afonso Dhlakama om met betogings teen die regering te begin.
Die opposisie het losgebrand terwyl die polisie besig was om in die vroeë oggendure wagte te ruil.
“Ons moes ons troepe inspan om terug te skiet nadat hulle begin skiet het,” het Joao Inacio Dina, ‘n polisiewoordvoerder in Nampula, gesê.
Volgens Dina is ‘n polisiebeampte dood nadat hy in die kop en onderlyf geskiet is. ‘n Ander beampte en drie Renamo-lede is beseer, het hy gesê.
“Ons het sover 34 wagte van die Renamo-leier in hegtenis geneem,” het hy bygevoeg.
Beamptes het ook vyf AK47’s, ‘n handwapen en 86 rondes ammunisie gekonfiskeer.
‘n Woordvoerder van Renamo was nie vir kommentaar beskikbaar nie.
