Met die aankondiging dat die ANC die grondwet wil verander om grond af te vat by ons ‘Die Setlaars’ is die Volkstaatgedagte al wat oorbly vir die Afrikaner.
Die groot vraag is waar gaan die Volkstaat wees? Dit is my opinie dat die vraag self beantwoord sal word wanneer die tyd reg is. Die vraag wat ons eerder moet vra is wat bly oor wanneer die ANC dit regkry om die Grondwet te verander?
Die antwoord: Daar gaan nie veel oorbly nie, die voorstelle wat die ANC maak is drakonies en sal die Afrikaner net nog verder vervreem in sy land. Daar word gepraat van die tweede fase van bevryding. Dit behels eintlik maar net meer steel van die staat of uit die Afrikaner se sakke en om die Afrikaner te verdryf uit Suid-Afrika.
Dit maak nie regtig saak wat die ANC se planne is nie, maar ons kan verwag dit sal iets negatiefs wees. Ek hoop egter dat die liberale Afrikaners begin wakker skrik uit hulle utopie en besef dat die ANC daarop uit is om ons Afrikaners te vernietig, en dat die liberale ook in die slag sal bly. Ons vel, kultuur, geskiedenis en taal is wat die ANC haat, nie ons politieke sieninge nie!
Al wat oorbly, is ons hunkering na ‘n Volkstaat, ‘n tuiste, daar waar Afrikanerwaardes, -kultuur en -geskiedenis bewaar word en waar ons taal beskerm word. Soos ek aan die begin van die debat geskryf het, moet ons nie nou begin om grense te trek nie, maar ons moet vandag begin verlang en streef na ons eie, na ‘n republiek, na ‘n Afrikanerrepubliek, waar dit ook al mag wees. Die grootte van ons volk se vryheidstrewe, en veglus sal bepaal waar die grense getrek word.
Die feit dat die ANC die Grondwet wil verander verteenwoordig ‘n donker tyd vir ons as Afrikaners. Hoe donker gaan dit nie wees as die ANC dit regkry nie? Soos geskiedenis ons al menige kere geleer het, gebeur daar wonderlike goed met volkere wat in die duisternis verkeer, en ons volk is geen uitsondering nie.
Staan op Afrikaners! Gaan maak ‘n draai daar in jou diepe binneste en vertel my dat jy nie wil gaan bly in ‘n Afrikanerrepubliek nie.
Volkstaat, Volkstaat hier kom ons!
