Venter skryf ‘n groot lot twak in sy rubriek Dis lekker in die laer. Daar is nie ‘n “laer” van Afrikaners nie, daar is klein groepies regses wat elk verward met 3 ossewaens onder ‘n bloekomboom saamtrek. Sommige in KZN, sommige in Orania, ander weer in Tshwane, ander weer in Ventersdorp. Verskrikte mense wat nie weet hoe om met verandering om te gaan nie, wat nie weet hoe om by ‘n veranderende wêreld aan te pas en nog steeds jou identiteit te behou nie.
Dit is juis die geheim van oorlewing, nie laertrek nie, maar jou identiteit as sterk genoeg sien om binne ‘n geïntegreerde samelewing te kan gedy, Dit doen die nie-regse Afrikaner uitmuntend. Kyk maar na die kunstefeeste, die Woordfees tans op Stellenbosch, ensovoorts. Waar Venter sy statistiek vandaan kry dat die “laer” groter (wil) word, sal ek graag sien. Een van die 3 ossewaens se leier sit saam met Zuma in sy kabinet…. ons weet die VF+ word by elke verkiesing kleiner. Maar nou ja, regse propaganda en breinspoeling van die mense wat bewe by die hoor van die naam “Malema” is ‘n daaglikse nodigheid. Maak die mensies bang en hulle sal dan moontlik ‘n stofstrepie na een van die dosyne “laers” toe hardloop.
En nog ‘n teenstrydigheid is dat Venter vertel hoe goed gaan dit met die Afrikaners (dis waar), maar self deel is van die groep wat daagliks huil oor hoe “onderdruk” die Afrikaner is. Verduidelik daai een so bietjie, Venter? En dan daai image van ‘n kort kakiebroek met lang sokkies……ai, ai….Venter.
