Krieket: Dis nag en dis môre: Dag Twee

Die Nieu-Seelandse krieketspan het vandag van vooraf geleer hoekom dit moeilik is om ’n span soos Suid-Afrika in ’n  toetswedstryd te klop. Geen span is onkwesbaar nie, maar wanneer jy ’n  werklike goeie span hard tref, is dit nie die einde van die wedstryd nie. Jy gaan weer moet toeslaan, en weer en weer…Nieu-Seeland is ’n  skaflike eendagspan, maar in daardie formate kan hulle volgens ’n  eenvoudige spelplan te werk gaan en sou hulle ’n  skielike voorsprong – ’n  paar sesse of ’n  paaltjie of twee – bewerkstellig, hoef hulle nie baie lank in die saal te bly om te wen nie. In ’n  toetswedstryd is dit anders. As jou teenstaanders die vaardighede en regte stoffasie het, gaan hulle hulleself loswurm uit meeste situasies, die druk verplaas en hulle eie slae uitdeel.

Die Nieu-Seelanders het ’n bevredigende eerste dag gehad. Nadat dit gelyk het asof Suid-Afrika gerieflik op koers na ’n  indrukwekkende eerstebeurttelling was, het die Swart Pette skielik ’n  paar bonuspaaltjies ontvang. Hulle ou boulperd, Chris Martin, het drie sleutelkolwers – Smith, Kallis en De Villiers – se paaltjies in vier balle verwyder. Suid-Afrika het die dag afgesluit op 191 vir sewe paaltjies – ’n  droomuitslag vir die Kiwi’s.  Hulle het die Slag van Dag Een gewen. Maar in toetskrieket word die oorlog bitter selde in een beslissende slag gewen. Nietemin moes die Nieu-Seelanders vergesigte van ’n  aansienlike eerstebeurtvoorsprong gesien het. En hulle sal een nodig hê, want Suid-Afrika hét die kolfmasjien om ’n  agterstand van – sê 150 – af te kolf, ’n  kommerwekkende voorsprong op te stapel en dan die wedstryd in die hande van die beste boulaanval ter wêreld te los.

Suid-Afrika se Jacques Rudolph en Vernon Philander het hulle beurte kom hervat en met redelike gemak gekolf. Philander het almal wat hom nie ken nie, verras met die onverstoorbaarheid waarmee hy gekolf en veral met die manier waarop hy sy paaltjie beskerm het. Rudolph was solied genoeg en het 52 lopies gekry. Philander is naderhand uit vir 22 wat vir Morné Morkel penne toe gebring het om ’n  paar feestelike houe te slaan, vernaamlik ’n  bykantdryfhou vir vier. Selfs die ingevoerde Pakistani, Imran Tahir, het stresloos gekolf voordat hy uitgehardloop is vir 10 en Suid-Afrika se beurt finaal bymekaar getel is vir 238 lopies.

Vernon Philander moet die irriterendste bouler wees om teen te kolf. Sy spoed – in die 130 km/u koers – is niks besonder nie, en hy swaai nie die bal soos ’n trekkersleepwa op ys nie, maar hy boul in daardie ongemaklike vierdepenkanaal en op daardie frustrerende lengte tussen goed en vol. En hy doen dit oor en oor en oor, bal na tergende bal, net daar waar die kolwer moét speel daarna om nie met sy paaltjie te dobbel nie. Die kolwer weet presies wat kom; hy is net nie seker dat hy sal kan aanhou om nie die bal deur te speel na ’n  veldwerker se honger hande nie. Een wat nié daarin kon slaag nie, was Nicol wat op 6 die bal gedienstig na Smith in die glippe geknikker het.

Martin Guptill, so effektief in eendagwedstryde omdat hy sy verdedigingsgebreke agter sy aanvallende flair kan verdoesel, is ongedaan gemaak deur ’n stygende bal van Morné Morkel wat hy in sy paaltjies in gekerf het. Sy bydrae was 11.

Brendon McCullum en Ross Taylor het met groot verbetenheid deur ’n storm van akkurate boulwerk gekolf. Vir lang tye was daar net nie swak balle om met groot houe beet te kry nie. Dit het die ondeunde Tahir gevat om McCullum los te wikkel. Die Nieu-Seelander, op 48, is verras deur ’n  goëlbal en het dit skerp die lug in geslaan en Immie het die ander veldwerkers met ’n  gil verwilder en sy eie werk klaargemaak. En toe was dit eers tyd vir hom om uit sy nate te bars. Dié man geniet ’n  paaltjie so, ander spanne behoort dit te oorweeg om vir hom meer te gee.

Taylor het, nadat hy vasgekeer is met goeie boulwerk deur Morkel, ’n wye bal na Boucher gekap. Hy het 44 gemaak.

Daarna was nog een van daardie uitgerekte vennootskappe wat nie regtig ooit moes wees nie. Daniel Vettori, met sy onooglike maar effektiewe tegniek, en die verloopte Suid-Afrikaner, Kruger van Wyk, het waaghalsig aanhou kolf, en het gelyk asof hulle lewenslange reg voor die penne toegeken  is. Graeme Smith het die sending om deur te breek aan Ou Goue Arm oorhandig en Kallis het deurgekom met ’n  bal wat vasgesteek het voor Vettori wat dit toe net voor hom so oor ’n  bobbejaanstert gedruk het en die gewigtige Kallis het gespaander, hy het geduik, hy het gerol en hy het gevang. Vettori uit vir 46.

Bracewell en Van Wyk het die irritasiewerk voortgesit tot en met die nuwe bal. Philander het voortgegaan asof sy boulskof nooit onderbreek was nie. Op ’n  tiekie buite die wegpen. Binne drie balle het hy Van Wyk en Southee se buiterande gevind en beide is deur Smith in die glippe gevang.

Bracewell het aangeval en aangestoot tot 25. Sy laaste lopies was ’n  vier na bykant toe gedruk van Dale Steyn wat sy geduld verloor het en probeer het om ’n  wonderbal te boul. Die volgende bal wás toe die wonderbal, een wat grond gesoen het regoor die middelpen en toe weggezoem het om middel en weg te versplinter.

Nieu-Seeland het uitgeskei met ’n  voorsprong van vyf lopies en die laaste paaltjie se kolwers nog lewendig. Kolwer nommer elf is Chris Martin met ’n  magtige toetskolfgemiddeld van 2,6. ’n  Voorsprong vir Nieu-Seeland van 150 lyk nie waarskynlik nie.

En dit is Nieu-Seeland se krisis in hierdie wedstryd. Dit help nie hulle troef die Suid-Afrikaners oor ’n sessie of twee nie. Hulle boulers moet die Protea-kolflys twee keer in ’n  wedstryd verdruk en dit lyk onwaarskynlik. Dis nie elke dag Krismis nie en dit sal  nie dikwels gebeur dat Petersen, Kallis én De Villiers droë skote skiet nie. Dan moet die Kiwi-kolwers twee keer in ’n  wedstryd die Suid-Afrikaanse boulaanval afweer. En dit gaan wragtag nie gebeur nie.

Олександр Васильович Фільчаков

Maak 'n opvolg-bydrae