Cele het gesê hy het naby daaraan gekom om ‘n staat-privaat-vennootskapooreenkoms te onderteken vir die bou van nuwe ‘n polisie-hoofkwartier in Pretoria.
Omdat hy van Durban kom, was hy redelik nuut in Pretoria toe sy voormalige adjunk en hoof van voorsiening, Hamilton Hlela, hom aangemoedig het om die kontrak te onderteken op die enjinkap van ‘n motor.
Die polisie het op daardie stadium ‘n maand-tot-maand huurkontrak by Wachthuis gehad. Daar was egter nie genoeg ruimte nie.
Cele het gesê nuwe kwartiere vir die polisie is bespreek lank voordat hy deur President Jacob Zuma in Julie 2009 as kommissaris aangestel is.
Die dringende nood vir kantoorruimte is veroorsaak deur die wêreldbeker, omdat ‘n effektiewe en doeltreffende kommunikasiespan meer ruimte gevra het, het hy gesê toe hy deur Viwe Notshe gevra is waarom hy ‘n senior polisiebeampte genader het oor die kwessie van verhuring.
“Die kwessie was al daar sedert 2004 en 2005. Dit was reeds op die tafel toe ek oorgeneem het,” het Cele gesê.
Hy het beskryf hoe, drie weke nadat hy in die pos begin het, Hlela voorgestel het dat hy die kontrak moet onderteken om die nuwe hoofkwartiere te laat bou.
Nadat hy daaroor nagedink het, het hy besluit om dit nie te onderteken nie en het dit eerder oorweeg om ‘n nuwe polisiehhofkantoor te laat bou. Hy het gesê hy het die feit oorweeg dat slegs vier nuwe polisiekantore in KwaZulu-Natal gebou is sedert 1994.
“Hlela het aan my gesê die PPP [staat-privaat-vennootskap] sal nie daarvan hou nie.”
Cele het Hlela, wat vroeër in die week getuig het, as ‘n onbetroubare persoon geskets, wat agter sy rug besluite geneem het sonder om hom te verwittig.
“Daar is baie ander dinge [oor hom] wat ek aan jou kan vertel.”
Cele het gesê ‘n paar weke nadat die kontrak deur die mat geval het, wou Hlela hê hy moes ‘n kontrak van R8 miljoen onderteken om sy kantoor en dié van die ministerie op te knap. Dit het ook misluk.
Cele het gesê dié en ander voorvalle het daartoe gelei dat hy die Spesiale Ondersoekeenheid gevra het om die polisie se departement van voorsiening te laat ondersoek.
