Die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming sê die jeugopleidingsprogram vir jong mense is nie ‘n rassistiese program nie, maar ‘n program om jong rewolusionêres in patriotisme en landsdiens op te lei.
NARYSEC, soos die program bekendstaan, wil jong revolusionêres soos die 1976-generasie aanmoedig sodat hulle die volgende vaste fondament kan lê.
Suid-Afrika herdenk reeds op 16 Junie elke jaar die 1976 studente-opstande in Soweto, waar die “apartheidpolisie met traangas en lewendige koeëls na ‘n vreedsame protes deur hoërskoolleerlinge in Soweto wat vir beter onderwys betoog het, geskiet het”, sê Eddie Mohoebi, hoof van kommunikasie van die departement.
Die wêreld het nog nie vergeet hoe wreed die apartheidsregering was nie, en die NASYREC-deelnemers moet hierdie geskiedenis as grondslag sien.
Die Departement van Landelike Ontwikkeling het gesê NARYSEC deelnemers, die werklose jeug van landelike gebiede, tussen die ouderdomme van 18 en 35, moet kyk en bou op die reeds stewige fondament wat gelê is deur die 1976-generasie.
Die NARYSEC is ‘n twee-jaar program wat gemik is op die bemagtiging van landelike jeug van elk van die 3 300 landelike wyke regoor die land.
Dr Anton van Staden sê die doel van NARYSEC is om die jeug te werf en te ontwikkel in die landelike gebiede tussen die ouderdomme tussen 18 en 35 vir gemeenskapsdiens. “Die program is gemik op die bemagtiging van die jeug met verskillende vaardighede en sal na verwagting sowat 10 000 geleenthede vir ten minste vier jeugdiges van die 3 000 landelike wyke in die land bied, insluitend die jeug met gestremdhede,” sê hy.
“Suksesvolle kandidate sal ‘n intensiewe opleiding ondergaan, gebaseer op die behoeftes geïdentifiseer tydens ‘n induksie en wat deur die Departement goedgekeur is, en sal ‘n maandelikse toelae ontvang vir die twee jaar vir die duur van die program.”
Vaardigheidsontwikkeling sal dissipline, patriotisme, lewensvaardighede, bewustheid van regte en spesifieke vaardighede behels.
Van Staden sê: “Die departement het begin met hierdie werkskepping en vaardigheidsontwikkeling, in lyn met sy landelike ontwikkelingsmandaat, en om by te dra tot die sleutel vyf prioriteite van die regering.”
Die Kommandokorps, Afriforum en die DA het voorheen kritiek uitgespreek teen die oprigting van wat hulle beskou as ‘n para-miltêre program. “Hierdie nie-militêre jeugdiges sal ons agente van verandering wees… ” het minister Gugile Nkwinti egter geantwoord.
