Proteas maak nie mooi met Swart Pette

Suid-Afrika se krieketspan het vanoggend (Boeretyd) hulle Nieu-Seelandse teenstanders in Napier, NS, gruwelik verniel en gaap-gaap met 6 paaltjies gewen. Wat die Swart Kepse veral intimiderend moet vind, is dat die volle geweld van Suid-Afrikaanse krieket hulle nog nie getref het nie. Die Proteas het baie silinders en het op almal geloop – net nie gelyktydig nie.

AB de Villiers het in die nadoodse onderhoud gesê die “ouens het bestendig goed gespeel.” Ons sal hom vergewe, want hy is dwarsdeur ’n  goeie makker en ’n  lojale kaptein wat in aanmoediging eerder as kritiek glo. Die ding is net, die ouens het goed gespeel, met rukke, maar geensins bestendig nie. Dié keer het die boulaanval slegs sporadies gevlot, maar die paar boulbeurte wat dinge mooi geloop het, was dit vreesaanjaend en baie indrukwekkend.

De Villiers het die loot gewen en tot die effense verbasing van vele ewe hoflik besluit Nieu-Seeland kan eerste kolf. Die koddige Tsotsobe het sy roetine om skadeloos te lyk en dan ’n  paaltjie te neem voortgesit. Hy het Nicol geskok met ’n bal op die beenskutte vir ’n  onbetwisbare BVP. Daarna het Guptill en McCullum tekere gegaan en die soms ergelose boulery van die Proteas allerverwoestend van bakboord na stuurboord geslaan. De Villiers het vanuit sy kantoor agter die penne freneties gesoek vir ’n  antwoord. Dale Steyn was so dodelik en doelgerig soos altyd maar was dán net nie goed genoeg om ’n  paaltjie te kry nie, en dán te goed.

Wat De Villiers nodig gehad het was ’n  goue arm, presies soos die een wat aan Jacques Kallis se regterskouer geheg is. Die groot en grootse Kapenaar het sy kant gebring. Hy het Guptill in ’n  akkurate boulbeurt aangekeer, eers wyd buite die wegpen met ’n  paar balle en toe een stywer teen die wegpen wat opgebars het van ’n  goeie lengte om ’n  buiterand te vind op pad na De Villiers se mowwe.

Williamson het ingekom en rondgehang voordat hy homself ook met Tsotsobe misgis het. ’n  Vlieënde booghou het rigting Kallis op diepby gevlieg en dié het elke sentimeter uit sy lyf geryg, agteroorgeval en die bal onderskep. McCullum het sy vrolike weg gegaan terwyl Steyn vir Jesse Ryder ontwortel het. Tsotsobe het sy kwartdosyn gekry toe McCullum hom met groot presiesheid na Ontong op middebaan gehaak het.

Daarna was dit die Morné Morkel-vertoning. Die kameelperd het die blad gesien en die blad goedgekeur. Dit het sy natuurlike wip verhewig en die res van die kolwers het suutjies oorgegee. Op ’n gaan-maar-mal blad het hulle die Morkel-missiele te warm gevind. Hulle is almal uit vir 230 op ’n  blad wat laas in 2004 ’n  eerstebeurttelling van minder as 250 lopies opgelewer het.

Amla en Kallis – in die plek van ’n  afgeboekte Graeme Smith – het die kolfwerk vir die Proteas oopgemaak. Kallis het een dryfhou regstreeks uit die handleiding geslaan en toe na vlieë gewaai om onmiddellik daarna agter die penne uitgevang te word. Amla het sy onverstoorbare, vloeiende gang gegaan. Faf du Plessis het die nommer-4 gleuf gevul en slae uitgedeel voordat hy uitgevang is.

JP Duminy, in baie gladder werking as tydens die eerste wedstryd, het saam met Amla warm yster gesmee en het 43 netjiese lopies in 39 balle aangeteken. De Villiers het ingekom en ’n  kalm hand op die boot se roer geplaas. Amla is uiteindelik, na ’n  paar avonture, uit vir 92. Die einde was egter reeds in sig en De Villiers, so onaantasbaar as ooit, en Justin Ontong, het die span huis toe geneem in die 39ste boulbeurt.

Die Nieu-Seelandse gees is duidelik gekneus en dit lyk asof net tien fratsballe hulle in die laaste wedstryd sal red.

Suid-Afrika het die driewedstrydreeks nou reeds gebêre.

Nieu-Seeland kan maar net probeer positief bly terwyl hulle stres oor wanneer Suid-Afrika se krieketmasjien uiteindelik alles reg doen.

Фильчаков прокурор харькова

Maak 'n opvolg-bydrae