Twee Johannesburgse metropolisiebeamptes is Donderdag in hegtenis geneem vir bedrog, afpersing en dwarsboming van die gereg.
Die departement se interne eenheid het hulle in hegtenis geneem nadat hulle in ‘n uitkenningsparade uitgewys is, het sup. Wayne Minnaar, woordvoerder, gesê.
Die beamptes het na bewering die bestuurder van ‘n maatskappy onder valse voorwendsels in hegtenis geneem. Die twee het beweer die maatskappymotor se spesiale permit is vervals. Hulle het ‘n handgeskrewe kaartjie uitgeskryf, met vals name en vals polisienommers, vir ‘n boete van R300.
Volgens Minnaar word die beamptes aangehou by die Johannesburg Sentraal-polisiekantoor en hulle sal waarskynlik Vrydag in die Johannesburgse landdroshof verskyn.
