Die Britse minister van buitelandse sake, William Hague, het Donderdag in ‘n onderhoud met die BBC verklaar dat buitelandse militêre ingryping in Sirië nie ‘n opsie is nie.
Dié aankondiging is deur ontleders verwag, na die pas afgelope fiasko in Libië, waar Britse, Franse en Amerikaanse inmenging tot ‘n burgeroorlog gelei het na die afsetting van en moord op kol. Gadaffi.
Hague het gister met sy Amerikaanse eweknie, Hillary Clinton, die opsie van ekonomiese en diplomatieke sanksies bespreek vóór die beplande konferensie in Tunis oor Sirië.
Die EU-ministers van buitelandse sake sal volgende week tydens ‘n spitsberaad in Brussel, onder meer strenger maatreëls teen Sirië bespreek. Dié houding word ook vertolk as ‘n manier van die EU om nie by die probleem betrokke te raak nie en die stryd daar sy gang te laat gaan.
Die Angelsaksers sal deur druk op die Arabiese Bond intree om die kwessie te probeer besleg. Hague het Brittanje se onmag om groter invloed te kan monster, as “uiters frustrerend” beskryf.
Militêre optrede is nie die antwoord nie, sê Hague. Hy sê die situasie is “baie ingewikkelder en vereis groter ingryping as in Libië”.
Pres. Basjar al-Assad, lid van die Alewitiese moslemminderheid, geniet die steun van China en Rusland wat albei ten gunste van ‘n diplomatieke oplossing in Sirië is. Albei lande het militêre ingryping reeds by die Veiligheidsraadsitting uitgesluit deur hul vetoreg uit te oefen.
Iran steun laasgenoemde en Brittanje en die VSA is tans bekommerd dat Iran sy invloed sal uitbrei indien Al-Assad val.
