‘n Hawelose 12-jarige seun is na bewering verkrag deur ‘n amptenaar van die vakbond Solidariteit se liefdadigheidsarm, volgens ‘n berig wat Vrydag verskyn het.
Die kind het sy selfoon gebruik om die verkragting aan te meld. Die insident het glo plaasgevind buite Gordonsbaai by ‘n karavaan wat deur die Helpende Hand Fonds aan die kind se behoeftige ouers geskenk is, het die New Age berig.
Kolonel Andre Taut het aan die koerant gesê die 60-jarige man is Maandag in hegtenis geneem en aangekla van verkragting. Hy het Woensdag in die Strand se landdroshof verskyn.
Die vakbond het sedertdien hulself van die man gedistansieer en beskryf hom as ‘n vrywillige werker.
