Die kompromie wat minister Gordhan rondom die Gauteng tolpaaie-projek moes maak, kos belastingbetalers nou miljoene rand as gevolg van die lomp beplanning en swak hantering van die projek sedert die aanvanklike besluite in 2007 geneem is.
Die stel van ‘n plafon van R550 per maand sal help om die las op motoriste te verlig wat die tolpaaie daagliks moet gebruik. Dit is egter totaal onaanvaarbaar dat Taxi’s niks hoef te betaal nie. Na alles maak Taxis geld uit die paaie terwyl talle arm motoriste nie anders kan as om met hulle motors daagliks op die tolpaaie werk toe te ry nie.
Met inflasie ongeveer 6% is die 20% verhoging van die brandstofheffing totaal uit verhouding hoog. Dit gaan ‘n regstreekse invloed op inflasie hê. Kospryse sal noodwendig as gevolg daarvan styg omdat landbou grootliks van brandstof afhanklik is vir produksie asook om hulle produkte na markte te vervoer. Die ekstra geld wat vir landbounavorsing goedgekeur is, sal hopelik help om te voorkom dat Suid-Afrika verder op hierdie terrein agter raak as wat die laaste paar jaar gebeur het.
Die VF Plus vind dit jammer dat die minister niks gesê het oor hoe hy staatsdiens-salarisverhogings binne perke gaan hou nie. Verlede jaar was dit een van die aspekte wat die grootste styging, ver bo inflasie, in die begroting behels het.
Die maatreëls om belastingvrystelling te gee ten einde individue aan te moedig om te spaar, is ‘n baie positiewe stap. Dit is wel ‘n vraag waarom dit tot so ‘n lae bedrag van R30 000 beperk word.
Die belastingvermindering vir klein en middelslag besighede word ook verwelkom asook die pogings om die staat se rompslomp by die betaal van hulle belasting te verminder. Dit behoort tot werkskepping en die groei van die ekonomie by te dra.
