Die Numbi-hek na die Kruger Wildtuin is steeds gesluit. Die swart gemeenskappe tussen Hazyview en Witrivier gaan voort met hul protesoptredes en versper steeds die pad na die Numbi-hek.
Die winkels van buitelanders is ook geplunder. Voornemende toeriste word gevra om eerder die Skukuza-hek in Mkhulu te gebruik.
Meer as 80 oproermakers is reeds deur die polisie in hegtenis geneem. Die polisie het rubberkoeëls en ‘n waterkanon ingespan om die betogers uiteen te jaag.
Die polisie in Mpumalanga het motoriste reeds Dinsdagoggend gewaarsku om die pad van Masoyi na Hazyview te vermy nadat dit deur betogers versper is.
Die pad is opgegrawe en is met klippe en brandende bande versper sedert betogings oor dienslewering Saterdagaand begin het, het kapt. Leonard Hlathi gesê. Motors is ook beskadig.
“Dit is onaanvaarbaar. Motoriste moet die Kiepersol-pad as alternatiewe roete na Hazyview neem.”
Diegene wat na die Kruger Nasionale Park reis moet eerder gebruik maak van die Kruger Park-pad in Hazyview.
